It is currently Tue Dec 12, 2017 8:25 am

All times are UTC + 2 hours




 Page 1 of 1 [ 1 post ] 
Author Message
 Post subject: Marginale, Teruggevalle en Valse Christene. Deur Johan Malan
PostPosted: Sun Jul 05, 2015 8:30 am 

Joined: Thu Dec 24, 2009 12:01 pm
Posts: 176
Marginale, Teruggevalle en Valse Christene
Prof. Johan Malan. Universiteit van die Noorde

Die toestand van ‘n mens se hart beskryf die aard van jou geestelike lewe en morele beginsels. Die hart is die sentrum van jou gees en siel, en dus bepalend vir jou wil, emosies en denkwyse. Jou hart is óf ‘n woonplek vir God óf ‘n woonplek vir Satan.
‘n Christen se hart is deur die Here gereinig, nuut gemaak en tot ‘n woning vir Homself omskep. Hierdie persoon het die Here lief omdat Hy sy sonde vergewe en sy siel gered het. Jesus sê: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal Hom
liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Joh. 14:23). Wanneer jou hart ‘n tempel van God is waarin die Heilige Gees woon, dan is Christus deur sy Gees in beheer van jou lewe en wys die weg aan wat jy moet bewandel. Hy gee aan jou krag om Hom te kan dien en ook om die Bose wat jou steeds sal versoek, te oorwin.

Die onweergebore hart is ‘n setel van die mens se gevalle, sonde-geneigde natuur. Dit is ook ‘n woonplek vir die duiwel omdat hy jou inherente, sondige neigings verder aanblaas. Diep uit jou verdorwe hart waarmee jy gebore is, kom sondige gedagtes na vore wat jou voete op verkeerde paaie rig: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit: wie kan dit ken? Ek, die Here, deursoek die hart…” (Jer. 17:9-10). Net die Here kan jou hart deursoek en deur die Heilige Gees ‘n oortuiging van sonde by jou skep, sodat jy jou sondes kan ken en jou verlore toestand voor Hom besef. Indien jy jou vertroue in die Here Jesus as jou Verlosser stel en al jou sonde bely en laat staan, sal Hy jou vergewe, jou aanneem en jou hart reinig.
‘n Hart wat deur die Here nuut gemaak is, moet sy volle potensiaal as ‘n tempel van God bereik en oorvloedige vrug dra vir die ewige lewe. Sommige mense laat tot hulle eie skade en skande na om aan die eise van dissipelskap te voldoen en die Here te vertrou om hulle met sy Heilige Gees te vervul. Ná ons inisiële heiligmaking by redding wil die Here ons ook volkome heilig maak sodat ons gees, siel én liggaam onberispelik voor Hom kan wandel (1 Thess. 5:23-24). Indien ons sou nalaat om hierdie noodsaaklike geestelike toerusting met krag uit die hoogte te verkry, is struikeling, val en opstaan, kompromie met die wêreld en geestelike veragtering ons voorland. Dan sal ons nie voorspoedig wees en vrug dra wat by die bekering pas nie, maar tot oneer van die Here ‘n dubbelhartige lewe lei.

Die probleme waarheen só ‘n marginale en onvolkome hartstoestand lei, is ernstig en soms vernietigend van aard. Verskillende vorms van geestelike veragtering en oneerbare optrede kan hieruit voortvloei. Dit sluit ‘n hele reeks toestande in wat van valse bekerings af deur verskillende vorms van geestelike veragtering strek tot by totale rebellie deur persone wat die pad van die Here verlaat en die rug daarop gedraai het. Dit is vir elkeen van ons nodig om ons hart te ken sodat ons, soos die verlore seun, betyds tot besinning kan kom indien ons dalk die vaderhuis verlaat en deur sonde vasgevang is.

1. Die onrein, verharde hart:
Dit is ‘n beskrywing van ‘n hart waarin die Woord van die Here nie ingang vind nie. In die gelykenis van die saaier lees ons dat ‘n deel van die saad langs (en op) die pad geval het waar die grond hardgetrap was. Hierdie saad is deur die voëls opgepik (Matt. 13:4). Vir die ongeredde mens is die Woord van God dwaasheid, daarom aanvaar hy dit nie en verwerp dit. Die duiwel help hom ook om dit gou te vergeet: “As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is – dit is hy by wie langs die pad gesaai is” (Matt. 13:19).
Die onreinheid van ‘n verlore mens kom diep uit sy hart waarin sy gevalle natuur gesetel is: “Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein” (Mark. 7:20-23).
As gevolg van die mens se vrye wil het hy die vermoë om sy hart te verhard en sodoende die Heilige Gees wat hom van sy sonde en verlorenheid wil oortuig, te weerstaan (Hand. 7:51). Dit is waarom Paulus sê: “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie” (Heb. 3:7). Die psalmis sê: “Ag, as julle vandag maar na sy stem wou luister” (Ps. 95:7). Ons moet sagmoedig wees as ons God se Woord wil ontvang. Dit beteken dat ons ‘n leerbare en ontvanklike gees moet hê. Jakobus sê: Ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red” (Jak. 1:21).
‘n Harde hart is nie net kenmerkend van ’n ongeredde sondaar nie, maar ook van ‘n teruggevalle persoon. Sonde maak ‘n mens hard en ongenaakbaar, en dus ook afgestomp vir die Woord van God. Jy ignoreer dit, versit jouself daarteen en verwerp dit. Later verloor jy alle sensitiwiteit vir sonde en pla dit jou glad nie meer as jy in sonde leef nie. Hoe verder jy terugval, hoe harder en dikvelliger word jy. Om dié rede moet ‘n Christen wat weer doelbewus begin sondig, in ‘n vroeë stadium, en ook so duidelik as moontlik, teen die gevolge van sonde gewaarsku word: “Vermaan mekaar elke dag, so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:13). Hierdie sondes waarin mense vasgevang raak, maak hulle harte onrein en hard.

2. Die selfregverdigende hart:
Baie mense bou hul lewens op valse fondamente. Hulle is nie gered nie, maar regverdig hulleself op grond van ‘n uiterlike skyn van Christenskap. Hulle roem op baie dinge behalwe die kruis van die Here Jesus waar die prys vir ons sonde betaal is. Sommige van die dinge waarop hulle roem is die uiterlike instandhouding van ’n Christelike lewenswyse (‘n goeie lewe), kerklike ritualisering (doop en aanneming), Christelike afkoms (ouers was gered), geld wat vir die kerk en liefdadigheid gegee word (goeie werke), ens. Op grond hiervan, asook na aanleiding van die sukses wat hulle behaal het, beskou hulle hulself as voortreflike Christene. Ons lees van sulke ongeredde naamchristene in die brief aan die Laodicense. Die Here sê:
“Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3: 15-17).
Hierdie mense is baie ingenome met hulle lewe en beskou hulleself as voorbeeldige Christene wat aan niks gebrek het nie. Hulle regverdig hulleself ten volle en meen dat hulle ‘n lewe lei waarop die seën van die Here oorvloediglik rus. Die Here Jesus kyk egter nie na hulle uiterlike prestasies en voorspoed nie, maar na hul harte. Hy sê dan dat hulle, geestelik gesproke, ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is. Hulle het ongeredde harte en Hy sal hulle as gevolg van hulle skynheiligheid uit sy mond spuug.

Dit sou vir hierdie mense veel beter gewees het as hulle geestelik koud of warm was. Iemand wat koud en afsydig teenoor die Here staan, weet ten minste dat hy nie ‘n Christen is nie, en kan altyd sy saak met die Here regmaak. As jy egter lou is, dan bely jy dat jy die Here ken en meen ook volgens jou eie standaarde dat jy ‘n goeie Christen is, maar jy het geen getuienis van wedergeboorte nie. Jesus Christus distansieer Homself ten volle van hierdie valse belydenis. Hy rig ‘n soortgelyke boodskap oor selfmisleiding aan ‘n ander dooie, vormgodsdienstige gemeente: “Jy het net die naam dat jy leef, maar jy is dood” (Op. 3:1).
Die skrifgeleerdes en Fariseërs, wat die predikante in Israel was, het presies dieselfde probleem gehad. Hulle en hulle volksgenote het die Here dag vir dag met hulle lippe bely, en ook ‘n aktiewe, wettiese tradisie van godsdiensoefening gehad, maar hulle harte was koud en ongered. Jesus sê vir hulle:
“Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas… Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou… So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het” (Mark. 7:6-13).
Hoeveel van ons hou nie ook aan kerklike tradisies en teologiese oorlewerings van mense vas nie! Ons dink dat die onderhouding van ons wette oor doop, kerklidmaatskap, Sondagskool, aanneming, die gee van tiendes, kerkraadsvergaderings en die hou van basaars ons siele sal red. Die Here Jesus het hierdie verdwaalde vormgodsdienstiges reggehelp: “As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Nikodémus het egter nie eers geweet waarvan Jesus praat nie, want in sy opleiding is geen aandag aan hierdie allerbelangrike saak gegee nie. Jesus verkwalik hom oor sy onkunde: “Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?” (Joh. 3:10).

So gaan baie mense ook in ons tyd met ‘n dooie vormgodsdiens deur die lewe. Paulus sê vir Timótheus dat hierdie naamchristene net ‘n “gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:5). Ons moet onder hulle uitgaan omdat hulle ons in die verderf sal inlei met hulle lae standaarde en gebooie van mense waaraan hulle vashou. In ons tyd is daar ook baie van hulle. Hulle glo meer aan hul predikant en aan Calvyn as aan die Here en die Bybel. Jesus sê vir hierdie slegte leiers:
“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie” (Matt. 23:13).
Hierdie misleiers is struikelblokke vir die volk, want hulle keer diegene wat hulle saak met die Here wil regmaak. Daar word vir hulle gesê dat hulle almal uitverkore verbondskinders is en reeds aan die Here behoort. Hulle hoef dus nie ‘n sielestryd oor hulle verlore toestand te hê en na wedergeboorte te soek nie. Só word hulle mislei om hulleself te regverdig terwyl hulle heeltemal ongered en op pad hel toe is.
Hierdie soort leuens kom algemeen in baie Christelike kerke voor, en is niks anders nie as ‘n set van Satan om mense ongered te hou deur hulle in ‘n misleidende vormgodsdiens vas te vang. Paulus sê: “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4). Godsdienstige fabels is leuens, of mites, waardeur mense van die waarheid weerhou en aan hulle valse leerstellings gegee word om hulle geloof op te bou.

3. Die onvervulde, vleeslike hart:
‘n Geredde maar onvervulde, vleeslike hart beskryf die toestand van ‘n Christen wat nog nie met die Heilige Gees vervul is nie. Hierdie hartstoestand kan die gevolg wees van jong gelowiges wat by bekering volstaan en nalaat om die tweede genadewerk van vervulling met die Heilige Gees te soek. Dit kan ook na gelowiges verwys wat vroeër geestelike Christene was, maar teruggeval en weer in ‘n vleeslike toestand beland het.
Paulus verduidelik aan die Korinthiërs dat daar basies twee groepe mense op aarde is, nl. die ongereddes (vleeslike mense) en die gereddes (geestelike mense). Die vleeslike mense leef volgens die verdorwe beginsels van die sonde-geneigde natuur waarmee almal van ons gebore word. Hierdie natuur is in opposisie teen die koninkryk van die Here. Aan die ander kant word die geestelike mense deur die Heilige Gees gelei en hulle bedink goddelike gedagtes omdat hulle die sin, of geestelike ingesteldheid, van Christus het (1 Kor. 2:14-16).
Wanneer Paulus na die meerderheid gemeentelede in Korinthe kyk, dan bemerk hy by hulle ‘n ontstellende mate van dubbelhartigheid. Hulle het wél ‘n getuienis dat die Here hulle siele gered het, maar in hulle gesindhede, lewenswyse en uitsprake is daar geen aanduiding dat hulle deur die Gees van God gelei word nie. Wat Paulus by hulle raaksien, is die verdorwe vrugte van die ongekruisigde vlees wat nog die botoon in hulle lewens voer. Die teenstrydigheid kom daarby in dat alhoewel hulle geredde mense is, is hulle glad nie geestelik nie, maar vleeslik –soos ongeredde, vleeslike wêreldlinge:
“En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe instaat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3).

Paulus kan hoegenaamd nie hierdie toedrag van sake aanvaar nie. As Christene het dié mense reeds die Heilige Gees gehad (Rom. 8:9), maar hulle word nogtans nie deur die Gees van God gelei nie, en dit is tog ‘n baiese kenmerk van Christenskap: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (Rom. 8:14). By die Korinthiërs is dit egter anders: die werke van die Gees is nie by hulle waarneembaar nie – net die werke van die vlees, nl. twis, jaloersheid en tweedrag. Die vraag moet tereg aan hulle gevra word: “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:16).
Só ‘n persoon, wat wél sy hart vir die Here gegee en daarna geestelik gestagneer het om onder die heerskappy van die vlees te leef, sal met leë hande voor die Here verskyn omdat die vrug van die Gees in sy lewe ontbreek. Hy sal “skade ly, alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Kor. 3:15). Hy is ‘n marginale Christen wat nouliks gered sal word.
Die onvervulde, vleeslike hart word op ander plekke in die Bybel ook aan insigloosheid en geestelike onwassenheid gekoppel. Só ‘n persoon het nie onderskeidingsvermoë nie, omdat hy nie as ‘n Geevervulde persoon verligte oë van die verstand het om goed van kwaad te kan onderskei nie. Hierdie gevaarlike gebrek aan insig lei daartoe dat die onvolwasse, vleeslike Christen maklik dwaalleringe ten prooi val. Hulle is geestelik nog kinders wat “soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:14). Hierdie mense kan nie deur die bedrieëry van valse profete sien nie en word ook maklik deur die duiwel gevang om sy wil te doen (2 Tim. 2:26). Sodoende val hulle verder in vleeslikheid terug.
‘n Verdere gevolg van geestelike onvolwassenheid is ‘n gebrek aan motivering en krag om vir die Here te werk en die evangelie aan andere te verkondig. Saam met die kragteloosheid gaan ‘n ernstige gebrek aan kennis van die Woord. Paulus sê vir sulke vleeslike, gestagneerde Christene: “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en het julle weer behoefte aan melk en nie aan vaste spyse nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van bekering uit dooie werke en van geloof in God” (Heb. 5:12–6:1).

Uit hierdie gedeelte is dit duidelik dat ‘n jong Christen nie ná sy bekering moet stagneer deur by die eerste tree in sy geestelike lewe vas te steek nie. Hy moet ook die wil van die Here oor heiligmaking doen (1 Thess. 4:3, 7). As hy dit nie doen nie, sal hy ná ‘n tyd nie eers meer van sy bekering seker wees nie, en sal die fondament van bekering uit dooie werke weer in sy lewe gelê moet word. Ons moet met vaste spyse gevoed word en geestelik opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus (Ef. 4:13). Slegs dan sal ons geestelike mense wees wat bruikbaar in die koninkryk van God is deurdat ons ook die Woord met oortuiging sal verkondig.
Indien daar geen geestelike groei plaasvind nie, dan vestig die vlees (die ou, sondige natuur) homself weer as die dominante beginsel in jou lewe. Die gevaar is dat sulke persone verder kan veragter in die genade en uiteindelik selfs uit die genade verval as hulle nie hulle sondes bely en ‘n oorgawe maak om deur die Gees vervul en gelei te word nie: “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede” (Rom. 8:5-6).
‘n Besliste keuse moet tussen twee lewenspatrone gemaak word – ‘n geestelike of ‘n vleeslike. Die eerste lei na die lewe en die tweede na die dood: “As julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Rom. 8:13). Ons moet dus seker maak dat ons ná ons bekering volledig in die nuwe lewe opgaan: “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel” (Gal. 5:25). Ons moet nie by die ervaring van geestelike lewendmaking deur die Heilige Gees volstaan en nalaat om deur die krag van die Gees ‘n godvrugtige lewe te lei nie, want dan sal die begeerlikhede van die ou lewe ons weer inhaal en oormeester. “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16)
Die normale geestelike lewe is ‘n lewe onder die leiding van die Heilige Gees. Dit alleen is vir die Here aanvaarbaar en sal ook voor die regterstoel sy goedkeuring wegdra. “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Rom. 8:1).
Wandel jy na die Gees, of moet daar ook vir jou gesê word, soos vir die Korinthiërs: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike”? Indien wel, dan beteken dit dat jy geestelik ná jou bekering gestagneer het, óf dat jy teruggeval het nadat jy ‘n tyd lank deur die Gees gewandel het. Die Galásiërs het ‘n dwase ding gedoen om terug te val, daaarom word daar aan hulle gesê: “Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Gal. 3:3).

4. Die onvrugbare hart:
Uit die oogpunt van godsvrug het alle ongeredde persone onvrugbare harte. Daar is egter ‘n paar redes waarom Christene ook soms veragter in die genade en met onvrugbare harte eindig. Wanneer hulle in ‘n vleeslike toestand terugval, soos hierbo beskryf, doen hulle nie werke wat ewigheidswaarde het nie, en sal met leë hande voor die Here staan.
‘n Vleeslike hart is geestelik onvrugbaar omdat die eie-ek op die troon van die hart is. Omdat die vlees ’n natuurlike geneigdheid tot sonde het, word die plek van godsvrug deur sondige werke ingeneem. In die gelykenis oor die saaier lees ons die volgende: “En ‘n ander deel [van die saad] het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik… En by wie in die dorings gesaai is – dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar” (Matt. 13:7, 22).
In hierdie geval het die saad van die woord opgekom, maar dit het geen vrug opgelwer nie omdat die dorings en distels van sonde, wêreldsgesindheid en rykdom die woord verstik het. Die konkrete feit wat ons hiervan kan aflei, is dat ‘n vleeslike persoon wat weier om homself te verloën en die kruis van selfsterwe op te neem, nie vir die Here kan werk nie. Hy diskwalifiseer homself en sal noodwendig ‘n geestelik onvrugbare lewe lei. Jesus sê: “En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie” (Luk. 14:27).
Dieselfde beginsel blyk uit die gelykenis van die wynstok en die lote: “Ek is die ware wynstok en my Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra… Wie in My bly en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Joh. 15:1-6).
Hieruit is dit duidelik dat die Here glad nie met ‘n onvrugbare bestaan in enige gelowige se lewe tevrede is nie. Lote wat wíl vrug dra, word skoongemaak en geheilig sodat hulle meer vrug kan dra. Lote wat al hulle groeikrag gebruik om wild te rank en dit nie vir die produsering van vrugte aanwend nie, voldoen nie aan die basiese voorwaarde van hulle bestaan nie – hulle lei ‘n vermorste lewe van eiebelang. Hulle sal ná ‘n tyd van onvrugbaarheid afgekap word en verdroog. Die uiteinde van hierdie mense is die vuur van God se oordeel oor die onvrugbares en onreines wat verharde harte het en net vir hulleself leef.
Die feit is dat ons voortdurend in Christus moet bly as ons vrugte wil dra: “Bly in My… Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie” (Joh. 15:4). Ons het ‘n opdrag om onafgebroke in Christus te bly, en dit gaan met ‘n positiewe belofte van ’n vrugbare lewe gepaard. Ons het egter steeds die keuse om nie in die Here te bly nie en ‘n afvallige en onvrugbare bestaan te voer. In laasgenoemde geval verbeur die loot sy bestaansreg en sal eers deur beproewings teruggesnoei word om te kyk of hy nie wil regkom nie. Indien nie, sal hy later afgekap word. Hieruit is dit baie duidelik dat ‘n mens deur jou eie toedoen in onvrugbaarheid kan verval, wat ongeloof impliseer omdat jy nie meer in die Gewer van alle lewe bly om deur Hom bekragtig, gemotiveer en toegerus te word nie. Jy moet die erns van die situasie besef as jy in só ’n toestand verval het:
“Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrug dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi” (Matt. 3:10).
Hoedanig is jou verhouding met die Here? As jy werklik in Hom bly, is dit ‘n geestelike wetmatigheid dat jy vrugte sal dra wat by die bekering pas (Mat. 3:8). Indien jy nie vrugte dra nie, is dit ‘n besliste aanduiding dat jy nie in die Gees lewe nie, maar in die vlees. Hierdie toestand sal nie toegelaat word om onbepaald voort te duur nie. Jy moet óf jou gebroke verhouding met die Here herstel (waarvoor Hy jou ‘n billike kans sal gee) óf Hy sal sy Gees van jou onttrek omdat jy nie aan jou roeping beantwoord om vrugte te dra nie. Hierdie beginsel word in ‘n gelykenis verklaar:
“’n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie. Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar? Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek hom gespit en mis gegooi het. As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap” (Luk. 13:6-9).
Hierdie boom het wél gelewe en was in die tuin van sy eienaar geplant, maar hy het ‘n onvrugbare bestaan gevoer. As hy só aangaan, sal hy net so seker uit die tuin verwyder word as wat die Here sy Gees onttrek het aan die gemeente van Éfese wat nie in Hom gebly het nie. Hulle het goed begin, maar later opgehou om die Here Jesus te dien. Hy sê vir hulle: ”Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5).

5. Die verdeelde hart:
Baie mense het verdeelde harte omdat hulle die beste van twee wêrelde wil hê. Hulle wil die Here dien om seker maak dat hulle eendag hemel toe sal gaan, maar hulle wil ook die aardse en vleeslike genietinge hê wat die geldgod, Mammon, aan hulle bied. Sulke mense is nie vrugbare, oorwinnende Christene nie omdat hulle nie met onverdeelde harte op die Here Jesus en sy koninkryk gefokus is nie. Selfs al het hulle in ‘n stadium onder sonde-oortuiging gekom en hulle harte vir die Here gegee, kom hulle later as gevolg van dubbelhartigheid tot ‘n val.
Christus het gesê: “Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Matt. 6:24). Só ‘n persoon moet ‘n keuse maak, soos die ryk jongman, of hy die Here of die geldgod wil dien. Die jongman het die verkeede keuse gemaak omdat wêreldse aansien en rykdom vir hom swaarder getel het (Luk. 18:18-24). Die noodwendige gevolg van dubbelhartigheid is dat só ‘n mens se geestelikheid mettertyd uitgeblus word, want “die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar” (Matt. 13:22).
Wat is die oplossing vir hierdie situasie? Draai jou rug op Mammon, die wêreld, die vlees en die sonde, en dien die Here met ‘n onverdeelde hart: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matt. 22:37). Dit is die enigste pad na die ewige lewe en vrugbare diens in die koninkryk van die hemel.

6. Die twyfelende hart:
Twyfel is óf die gevolg van ongeloof óf van ‘n baie swak geloof. “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6). ‘n Twyfelaar se gebede word nie beantwoord nie: “Hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jak. 1:6-7). Twyfelende Christene het ‘n swak geloof.
Ons moet opgebou word in die allerheiligste geloof (2 Pet. 3:18; Judas 1:20). Baie mense se geloof is nog swak, met die gevolg dat hulle maklik twyfel en vrees – veral in krisissituasies. Dit was tydens ‘n storm op die see vir Jesus nodig om sy dissipels as kleingelowiges te bestempel en ook vir hulle te vra: “Het julle dan geen geloof nie?” (Mark. 4:40; Luk 8:25). Die dissipels het hulle behoefte aan ‘n sterker geloof besef, en vir die Here Jesus gesê: “Gee ons meer geloof” (Luk. 17:5). Mense met ‘n swak geloof is marginale Christene wat maklik in twyfel en selfs in ongeloof kan verval. Diegene wat nog swak in die geloof is, moet geestelik versorg en opgebou word sodat daar voltooi kan word wat aan hulle geloof ontbreek (1 Thess. 3:10). Die doel hiermee is dat hulle geloof sal toeneem en oorvloedig word (2 Kor. 8:7; 10:15; 2 Thess. 1:3). Vervulling met die Heilige Gees verleen ‘n sterk geloof (Hand. 6:5; 11:24).

7. Die ongelowige hart:
In die Bybel word al die ongeredde mense as ongelowiges beskryf omdat hulle nie in die ware God en sy Seun, Jesus Christus, glo nie. Selfs die feit dat sulke mense in afgode glo, maak nog steeds nie van hulle gelowiges nie omdat hulle geloof op valse fondamente berus en dus oneg is. ‘n Ongelowige hart is ‘n donker en bose hart omdat dit vol sonde en ongeregtigheid is. Die god van hierdie wêreld (Satan) verblind die sinne van die ongelowiges sodat die verligting van die evangelie van Christus nie op hulle moet skyn nie (2 Kor. 4:4).
‘n Gelowige kán van die Here afvallig word deurdat hy ‘n twyfelende hart met ‘n swak geloof kry. Sommiges verval egter heeltemal uit die genade en kry weer bose en ongelowige harte. Paulus waarsku die Hebreeuse Christene teen hierdie moontlikheid: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Heb. 3:12). Die rede vir hierdie tragiese toestand is dat sonde toegelaat word om weer in die hart in te kom en dit heeltemal oor te neem en te verduister. Dit is inderdaad ‘n groot tragedie as so iets gebeur, daarom sê Paulus: “Die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie” (Heb. 10:38).
Die Bybelse leer van die volharding van die heiliges moet met groter erns verkondig word, sodat Christene kan besef dat die sielevyand venynige aanvalle op hulle geloofslewe maak, en hulle moet daarteen weerstand bied. Moenie toelaat dat jou geloofsband met die Here Jesus verbreek word nie: “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). Wat gebeur as ons nie ons vertroue in Christus onwrikbaar vashou nie en weer vir sonde in ons lewe plek maak? Ons verval geestelik. Laat ons dus met vasberadenheid die pad van die Here bewandel:
“Laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof… Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:1-4).
Paulus het ook vir Timótheus teen die moontlikheid van geloofsverval gewaarsku, omdat dit selfs met Geesvervulde kinders van die Here kan gebeur indien hulle onverskillig, sondig en wêreldsgesind begin raak. Timótheus is tot volharding aangemoedig sodat hy “die goeie stryd kan stry en aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:18-19). Daar is in ons tyd baie van hierdie geestelike skipbreukelinge wat in ‘n stadium waarlik geglo het, maar dit later van hulle af weggestoot het. Hulle het self die rug hierop gedraai en hulle uit die geloofslewe onttrek.
Die ewige lewe is net in die Here Jesus. As ons nie in Hom bly nie, dan verloor ons die ewige lewe. “As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen – sal hy lewe? Aan al sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe” (Eseg. 18:24). Dit is die tragiese uiteinde van ‘n pad van terugval. Die Here het vir Israel gesê: “Jy het My verwerp, spreek die Here, jy het ál agteruitgegaan” (Jer. 15:6).
Wat dan van die volgende teks?: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie” (Joh. 10:27-28). Die versekering wat hier gegee word, is dat geen eksterne mag jou uit die hand van die Here kan ruk nie. Die Here sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee sodat ons dit kan verdra (1 Kor. 10:13). Die duiwel kan ons nie uit die hand van die Here ruk as ons nie doelbewustelik met hom saamwerk nie. Ons kan egter self, deur eie keuse, uit die hand van die Here gaan, omdat ons steeds ons vrye wil behou en dit ook tot ons eie ondergang kan gebruik deur verkeerde keuses te maak. Dit vestig die aandag op die voorwaarde van hierdie belofte: ons moet na sy stem luister en Hom volg (Joh. 10:27). As ons nie meer na sy stem luister nie en van Hom af wegdwaal, het ons beslis probleme! Hierdie beginsel word ook in Johannes 15 bevestig waar die onvrugbare loot wat nie in die wynstok bly nie, afgekap word.
Dit is ‘n voldonge feit dat verval in ongeloof ons as kinders van God diskwalifiseer. Dit geld vir Israel én die kerk. Na analogie van die olyfboom (Israel) sê Paulus dat die mak takke weens ongeloof afgekap is en dat takke van die wilde olyfboom (lede van die nie-Joodse volke) in hulle plek ingeënt is. Ons word egter duidelik in die lig van Israel se ongeloof gewaarsku: “Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie” (Rom. 11:20-21). Bly in Christus, soos Hy in jou!
Ons moet dus gegrond en vas bly in die geloof, en ons nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie (Kol. 1:23). Waak teen valse profete wat die geloof van sommige omkeer (2 Tim. 2:18). Aan die einde van sy lewe kon Paulus deur die genade van die Here sê dat hy ‘n oorwinnaar in die geloofstryd was: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Tim. 4:7).

8. Die verleide hart:
Alle Christene het ‘n duidelike opdrag om toe te sien dat hulle harte nie deur die verleiding van die sonde verhard word nie (Heb. 3:13). Hoe doen hulle dit? Deur die sonde-geneigde, vleeslike natuur af te lê en hulle met die nuwe natuur van die Here Jesus te beklee. Paulus sê vir die Efésiërs “dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24). Die oue mens is vatbaar vir verleiding van sonde wat uit sy eie begeerlikhede voortkom, asook versoekings wat direk van Satan af kom. Die ongekruisigde, ou natuur is die duiwel se bondgenoot deur wie hy werk om jou te laat sondig.
Wanneer ‘n Christen uit swakheid gesondig het, moet hy dit dadelik bely en laat staan (1 Joh. 2:1); dan bly hy onder die bloed van die versoening en beland nie onder die oorheersing deur ‘n verleide hart nie. Indien hy egter moedswillig en voortdurend sondig, dan verval hy in die mag van ‘n verleide hart. Die verlore seun het in só ‘n toestand verval. Dit blyk uit die gelykenis duidelik dat hierdie seun ‘n berekende besluit geneem het om sy vaderhuis te verlaat en in die wêreld in sonde te gaan leef. Dit het meegebring dat hy uit die genade verval het, want in hierdie tyd was hy geestelik “dood” en “verlore” (Luk. 15:32). Indien hy in dié tyd gesterf het, sou hy beslis sy oë in die hel oopgemaak het.
Hierdie seun is deur die verleiding van sonde oormeester, en het ook daaraan toegegee sonder om egter sy vader as sodanig aan te val of te verwerp. Die pad was dus vir hom oop om uit sy sondige toestand tot bekering te kom en “weer lewendig” te word. Hy het vroeër geleef, intussen vir ‘n tyd lank geestelik gesterf, maar ná sy bekering weer geleef.
Alle Christene moet daarteen waak om in sonde terug te val, want dan word hulle gewoonlik erger sondaars as wat hulle voor hulle bekering was. Hulle vind dit baie moeilik om uit daardie toestand na die Here terug te keer, “want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword. Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is” (2 Pet. 2:19-21). As hulle nie op die Here se roepstem ag slaan om terug te kom nie, dan ontaard en verheidens hulle heeltemal en kry klipharde harte.

9. Die misleide hart:
Misleiding het op leuens betrekking, en dui op mense wat deur die leuens van valse profete, valse leraars én ook a.g.v. selfmisleiding, van die waarheid afvallig word. Alle ongeredde mense het misleide harte deurdat hulle valse, demonies-geïnspireerde gelowe navolg en dus in werklikheid duiwels aanbid (1 Kor. 10:19-20). Christene kan egter ook misleide harte kry wanneer hulle onder die krag van die dwaling kom:
“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1).
Om van die geloof afvallig te raak, kan net op Christene betrekking hê omdat ongeredde heidene nooit as gelowiges beskryf word nie. Baie Christene wat begin dwaal en die gesonde leer van die Bybel verwerp, soek vir hulle leraars wat hulle in hul kwaad sal sterk (2 Tim. 4:3-4). Hulle verlaat hulle eerste liefde, Jesus, (Op. 2:4) en word volgelinge van kultusleiers. Hierdie leiers doen dikwels ook tekens en wonders waarmee hulle mense mislei (Matt. 24:11, 24). Baie min mense slaan ag op die waarskuwings om die valse profete te weerstaan:
“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh. 4:1).
Ons het die opdrag om enige mens, en selfs ‘n engel uit die hemel, wat ‘n evangelie verkondig in stryd met dit wat in die Bybel staan, te verwerp en hom ’n vervloeking te noem (Gal. 1:8). Die Galásiërs het na ‘n wettiese godsdiens teruggeneig waarin die genade van Christus nie meer as voldoende vir redding beskou is nie. Paulus het hulle gewaarsku dat indien hulle hieraan sou toegee, hulle van die genade sou verval (Gal. 5:4). Die Korinthiërs was ewe naïef om hulleself sonder verdere ondersoek vir ‘n ander Jesus, ‘n ander gees en ‘n ander evangelie oop te stel en sodoende na Satan se misleiding te luister (2 Kor. 11:3-4). Hierdie misleides sal hulle oë in die verderf oopmaak as hulle nie na die waarheid van die Woord terugkeer nie.
Sommige mense mislei hulleself deur net emosioneel op die evangelie te reageer en dit met “blydskap” aan te neem (dus nie deur die “geloof” nie) en sodoende ‘n valse bekering te hê. Dit is soos die saadjies wat in die vlak grond geval het en geen diepte het nie: “En by wie op die rotsagtige plekke gesaai is – dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik” (Matt. 13:20-21). Ons moet die getuienis van die Heilige Gees in ons harte hê dat ons kinders van God is (Rom. 8:16).

10. Die onheilige hart:
Christene verloor soms die heiliging van hulle harte omdat hulle in hul geestelike lewe agteruitgegaan en weer die wêreld bo die Here verkies het:
“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir een spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het nie. Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer” (Heb. 12:14-17).
In die oorspronklike taal is dit duidelik dat hier nie net van iemand gepraat word wat in die genade van God “veragter” het nie, maar iemand wat heeltemal uit die genade verval het. Die Amplified Bible sê: “…see that no one falls back from and fails to secure God’s grace.” Die King James Version sê: “Looking diligently lest any man fail of the grace of God.” Die kommentaar van proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 810-811) lui soos volg:
“As ‘n ernstige aanmaning oor wat met gelowiges kan gebeur, waarsku die skrywer dat iemand wat die genade van God misloop (one who misses the grace of God) soos ‘n wortel van bitterheid kan word waarvan die ongeloof ook ander mense kan beïnvloed. Die skrywer het Deuteronómium 29:18 in gedagte gehad: “…sodat daar onder julle geen man of vrou… mag wees wat sy hart vandag van die Here onse God afwend om die gode van dié nasies te gaan dien nie, sodat daar onder julle geen wortel mag wees wat gif en wilde-als dra nie.” Só ‘n persoon sou goddeloos en onheilig wees soos Esau, Jakob se broer, wie se losse en goddelose karakter hom daartoe gelei het om sy erfreg as die oudste seun vir die genot en tydelike gewin van ‘n enkele maaltyd te verkoop. Die lesers word gewaarsku om nie aan verganklike druk toe te gee en sodoende hulle geestelike erfenis te verloor nie. Indien sommiges dit sou doen, sal hulle later hierdie dwase stap berou en vind dat hulle die voorregte van hulle erfenis onherroepelik verbeur het, soos wat die geval met Esau was. Dit sou waar wees van iemand wat sy Christelike ondervinding in goddeloosheid beëindig – iets waarteen die skrywer van die Hebreër-brief telkens waarsku.”

11. Die rebelse hart:
Hierdie is ‘n baie ernstige vorm van dwaling omdat dit op die verwerping van die Vader, Jesus Christus, die Heilige Gees en die versoening aan die kruis neerkom. Dit behels mense wat doelbewustelik hoogverraad teen die God van die Bybel pleeg en daardeur die enigste grondslag vir die redding van hulle siele minag en verwerp. Dit is onmoontlik om hulle weer tot bekering te vernuwe omdat hulle die Here Jesus weer kruisig en tot skande maak (Heb. 6:6).
“Want as ons opsetlik sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:26-29).
Hier is duidelik van hoogverraad sprake, waarin ‘n persoon teen die regering van die koninkryk waaraan hy behoort, in opstand kom en dit verwerp. Mense wat teen die wet en regering van Moses in opstand gekom het, moes sterf. Die aarde het onder Korag, Datan en Abíram oopgeskeur toe hulle teen Moses gerebelleer het (Num. 16). Hoeveel groter straf sal nie oor mense kom wat teen Jesus Christus, die Middelaar van die Nuwe Testament, rebelleer, die bloed van die kruis onrein ag en die Gees van genade smaad nie? Daar bly geen ander offer vir hulle sonde oor nie, omdat hulle die enigste offer geminag en onder hulle voete vertrap het. Dit is dieselfde sonde wat die Fariseërs gepleeg het toe hulle gesê het dat Jesus die duiwels deur die owerste van die duiwels uitdryf (Matt. 9:34). Hierdeur het hulle teen die Heilige Gees gelaster en dit sou hulle nie vergewe word nie (Matt. 12:28-32). Hulle was dus rebelle, en het die engste Gees wat hulle van sonde kon oortuig, gesmaad, belaster en weerstaan.
Daar is ook in ons land teoloë wat teen die Here Jesus rebellie pleeg deur sy Godheid te ontken en Hom sodoende te verloën: Petrus sê: “Daar was ook valse profete onder die volk [Israel] net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg” (2 Pet. 2:1-2). Dit is doelbewuste en openlike rebellie teen God en nie ‘n geval, soos dié van die verlore seun, van iemand wat deur die verleiding van die sonde (immorele dade) tot ‘n val gekom het nie. Vir die rebelle wat hoogverraad gepleeg het, wag die oordele van God: “Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb. 10:31).

12. Die verraaiers-hart:
Hierdie groep vind aansluiting by dié van die vorige, en verwys na mense wat aanvanklik navolgers van die Here was, maar Hom later verraai en teen sy koninkryk gewerk het. In die Ou Testament het Bileam ter wille van finansiële gewin die volk Israel én die God van Israel verraai deur aan die vyand sluwe raad te gee oor hoe om hierdie volk te mislei (2 Pet. 2:15). Aanvanklik het hy egter seëning oor Israel uitgespreek (Num. 22-25).
In die nuwe Testament het Judas Iskariot die Here Jesus vir 30 silwerstukke verraai (Matt. 26:14-16; 47-50). Daar is vandag ook baie mense wat die Here Jesus én die Christendom vir geld en aansien verraai deur bv. die Christendom met die heidense gelowe gelyk te stel.

13. Die gereinigde, Geesvervulde hart:
Teenoor al die valse en verdorwe harte is daar die hart wat deur die Here Jesus nuutgemaak en van alle sondes gereinig is. Die Heilige Gees vervul en beheer só ‘n hart (Ef. 5:18) en stort ook die liefde van die Here Jesus daarin uit (Rom. 5:5). In hierdie hart vind die woord van die Here ingang en dra veel vrug: “…dit is dié wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra” (Luk. 8:15). Hy draai nie om op die pad van die Here nie en wyk ook nie daarvan af nie, maar volhard tot die einde toe. “Geseënd is die man wat op die Here vertrou… want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jer. 17:8). Hy bêre die woord van die Here in sy hart dat hy teen Hom nie sal sondig nie (Ps. 119:11).

God bless.


Offline
 Profile  
 
Display posts from previous:  Sort by  
 Page 1 of 1 [ 1 post ] 

All times are UTC + 2 hours


Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 3 guests


You cannot post new topics in this forum
You cannot reply to topics in this forum
You cannot edit your posts in this forum
You cannot delete your posts in this forum

Search for:
Jump to:  

cron