It is currently Sat Nov 25, 2017 12:02 am

All times are UTC + 2 hours




 Page 1 of 1 [ 1 post ] 
Author Message
 Post subject: Uit die duisternis tot die Lig. Prof Johan Malan.
PostPosted: Sun Jul 05, 2015 8:37 am 

Joined: Thu Dec 24, 2009 12:01 pm
Posts: 176
Uit die Duisternis tot die Lig
Die Bybelse leer oor redding, heiligmaking en geestelike groei, deur prof. Johan Malan
Alle Skrifaanhalings kom uit die 1933/53 vertaling van die Afrikaanse Bybel

Die plan van verlossing:
Die Here het in die Bybel ‘n duidelike plan van verlossing bekend gemaak om ons siele te red, ons vir diens toe te rus en tot geestelike volwassenheid te laat opgroei. Die bereidwilligheid en volle samewerking van elkeen van ons, volgens vaste Bybelse riglyne, is nodig indien ons die tragedie van ‘n valse bekering óf die teleurstelling van geestelike stagnasie en veragtering wil voorkom.
Ek nooi jou om saam met my die geestelike rykdom van die Here Jesus se reddende genade in die Bybel te ontdek en in die geloof vir jouself toe te eien.
1. Roeping
Die Here gee die eerste tree op die pad van die sondaar se bekering en redding: “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). Hy nooi alle sondaars om vir die verlossing van hulle sondes na Hom toe te kom:
“Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jes. 1:18).
God roep alle mense uit alle volke tot bekering op (Hand. 17:30). Jesus Christus het na die aarde gekom om deur sy kruisdood vergifnis van sonde en ‘n nuwe lewe aan verlore sondaars te bied (Luk. 24:46-47). Hy sê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28). Hierdie uitnodiging is net vir mense wat erken dat hulle sondaars is: “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Matt. 9:13).
Dit is belangrik om in jou verlore toestand die roepstem van die Here duidelik te hoor, want dit sal die aard van jou reaksie bepaal. Jy moet die volle omvang van jou probleem van verlorenheid deeglik besef, naamlik dat jy sonder Jesus Christus op ‘n ramp in jou lewe afstuur. Daar is geen ruimte vir selfregverdiging wat jou sondigheid en donker geestelike toestand betref nie, want “daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie” (Rom. 3:10; vgl. Ps. 14:2-3; 53:3-4).
Jy moet kennis oor sonde opdoen, en veral oor jou eie sondes wat ‘n skeidsmuur tussen jou en die Here is (Jes. 59:2). Daar moet geen twyfel by jou bestaan dat die ewige doodstraf oor sondaars uitgespreek is nie (Rom. 6:23). Alle ongereddes moet hulleself hierop voorberei, want as hulle nie tot bekering kom nie, sal hulle voor die groot wit troon die volgende woorde hoor:
“Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Matt. 25:41).
Wanneer die roeping van die Here tot jou kom, raak jy nie net van jou sonde en verlorenheid bewus nie, maar ook van die oplossing daarvoor. God sê dat Hy jou liefhet en dat Hy deur die kruisdood van die Here Jesus dit vir jou moontlik gemaak het om sondevergifnis en die ewige lewe te verkry. Dit is die goeie nuus wat saam met die roeping aan jou verkondig word.
“Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes” (1 Joh. 4:10; vgl. Joh. 3:16).
“Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring – Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees” (1 Pet. 3:18).
“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Kor. 5:21; vgl. Rom. 8:3; Gal. 3:13).
Die roeping van God moet só tot die sondaar kom dat hy die volle implikasies van ‘n kosteberekening sal besef. Jesus het vir Nikodémus duidelik laat verstaan dat teologiese kennis en ‘n mooi lewe nie genoeg is om die koninkryk van God te beërf nie – hy móét weergebore word (Joh. 3:3). Hiervoor is dit nodig om alle bewuste sondes te bely en te laat staan sodat die verlore persoon volkome nuut gemaak kan word.
Christus het vir die ryk jongman gesê dat hy eers met sy sonde van materialisme moes breek (Luk. 18:22). Vir dié jongman, wat andersins baie godsdienstig was, was dit moeilik om van sy boesemsonde af te sien, en hy het bedroef van die Here af weggegaan. Baie ander mense vind dit ook moeilik om tot bekering te kom, omdat hulle nie regtig met al hulle sondes wil breek nie. Vir almal wat met die probleem van liefde vir sonde worstel, sê die Here Jesus:
“Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie” (Luk. 13:24).
Om deur die nou poort in te gaan en ‘n nuwe lewe in Jesus Christus te verkry, is ‘n onbeskryflike ondervinding en iets wat jy moet aanhou soek totdat jy dit vind (Luk. 11:9). Die gawe van die ewige lewe is ‘n geskenk van God wat nie deur die mens verdien of gekoop kan word nie. Die kosteberekening kom daarby in dat die besoedelde kleed van sonde afgelê moet word voordat jy met die kleed van geregtigheid beklee sal word (Ef. 4:22-24). Is jy ten volle bereid om met jou sonde te breek om die Here met ‘n onverdeelde hart te volg?
‘n Sondaar wat die Here se roeping tot bekering ontvang het, ontwaak geestelik en kom tot die besef van sy verlore toestand. Sy oë gaan vir sy sondes oop, asook vir die oplossing van sy sonde-probleem, naamlik die verlossingswerk van Christus. Dit gebeur onder die inwerking van die Heilige Gees wat deur die Here se Woord met hom praat: “Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn” (Ef. 5:14).
‘n Ontwaakte sondaar is nog glad nie gered nie, maar hy het uit sy doodslaap wakker geskrik en besef dat hy na die verderf op pad is en dringend iets aan die saak moet doen. Hy word voor ‘n keuse gestel en kan op een van die volgende twee maniere op die besef van sy sonde en verlorenheid reageer:
• Hy kan gehoor gee aan die Heilige Gees wat hom van sonde, geregtigheid en oordeel oortuig (Joh. 16: 8). Dan moet hy sy sondes bely, die geregtigheid van die Here Jesus in die geloof toeëien en sodoende die oordeel oor sondaars vryspring (Joh. 5:24).
• Hy kan ook die roepstem van die Here tot sy eie ondergang weerstaan: “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie” (Heb. 3:7-8). As hy sy hart aanhoudend verhard, dan vervaag die roepstem van die Here in sy lewe en raak dit al hoe moeiliker om daarop te reageer. Moenie toelaat dat jou hart só verhard raak dat jy later geen behae meer in die dinge van die Here het nie (Heb. 3:13; Pred. 12:1).

2. Berou:
‘n Ontwaakte sondaar wat besef dat hy sy saak met die Here moet uitmaak, het onder die oortuiging van die Heilige Gees berou oor sy sonde. Hy regverdig homself nie meer nie en is diep onder die indruk van sy sonde en verwerplikheid. Hy voel aangekla en veroordeeld oor dit wat hy gedoen het. Sy skuldgevoelens dryf hom dan na die Here Jesus – dié Een wat so ‘n vernederende dood vir die redding van sondaars gesterf het.
Het jy al die intense droefheid en berou ervaar wat na ‘n ware bekering en hartsverandering lei?
“Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding” (2 Kor. 7:10).
Die droefheid wat God behaag, is om ‘n berouvolle hart te hê wat na ‘n ware bekering sal lei: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word” (Hand. 3:19). ‘n Parafrase van hierdie teks lui só: “Kom dan tot inkeer [met berou en ‘n veranderde gevoel oor julle sondes] en bekeer julle [draai om] sodat julle sondes uitgewis kan word.”
Droefheid, of berou oor sonde, is ‘n direkte gevolg van die Heilige Gees se oortuiging van sonde in jou hart. Dit dryf jou na die Here se genadetroon en werk só ‘n bekering tot die lewende God in die hand. Berou is ‘n diep geestelike bewuswording van jou totale onwaardigheid voor die Here. Jy besef dat jy ‘n helverdiende sondaar is wat geen aanspraak op begenadiging het nie. In hierdie toestand kan jy jouself maar net op ‘n barmhartige God beroep om jou in genade aan te sien.
Toe Petrus die Here Jesus verloën het, het hy buite toe gehardloop en bitterlik geween (Matt. 26:75). Dit is ware berou oor sonde, en hieruit vloei dié soort belydenis wat die voorwaarde vir vergifnis is.
Hoe kan ‘n mens jou sondes opreg bely as jy nog nie vir die Heilige Gees die geleentheid gegee het om jou van die afskuwelike aard en gevolge daarvan te oortuig nie? Hierdie oortuiging kry jy wanneer jy die Woord van die Here aandagtig lees of daarna luister. As die Here jou roep, wys Hy jou presies waar jy met Hom staan. Die droefheid wat dan volgens sy wil en onder die leiding van die Heilige Gees oor jou kom, plaas jou op die pad na ‘n ware bekering.
Daar is geen plek vir bedekte hoogmoed en selfregverdiging wanneer jy na die Here toe kom sodat Hy jou siel kan red nie, want só ‘n gesindheid sal ware berou, gebrokenheid van hart en ‘n eerlike sondebelydenis teëwerk: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jak. 4:6). Jy moet aan die einde van jouself kom, erken dat jy ‘n mislukking van jou lewe gemaak het, en jou vertroue in die Here alleen stel. Jy verdien niks nie en kan net om genade bid.

3. Bekering:
Wanneer die berouvolle sondaar besluit om sy saak met die Here reg te maak, dan draai hy om op sy lewenspad wat weg van die Here af gelei het, en nader die troon van genade met belydenis van sy sonde. Hy vra nie net vinnig en terloops dat die Here sy sonde moet vergewe nie, maar voldoen ook aan die voorwaarde vir vergifnis, naamlik ‘n grondige en eerlike belydenis van sonde:
“As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh. 1:8-9).
Die Here Jesus wag dat jy jou sondes (in die meervoud, dus almal van hulle) sal bely én ook jou rug daarop sal draai. Jy moet volkome daarmee breek en jou volle samewerking gee om nie daarmee voort te gaan of later weer daarheen terug te keer nie:
“Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spr. 28:13; beklemtoning bygevoeg).
Sowel sondaars wat tot bekering kom as teruggevalle Christene wat weer deur sonde in hulle lewe verstrik geraak het, moet ten volle bereid wees om uit die ou lewe uit te stap en belydenis van hulle oortredinge te doen. Die verlore seun het ‘n duidelike besluit geneem om met sy sonde te breek en dit aan sy vader te bely:
“Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u” (Luk. 15:18).
Koning Dawid het ook sy sonde erken en bely:
“Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë... was my, dat ek witter kan wees as sneeu... delg uit al my ongeregtighede” (Ps. 51:5-6,9,11).
Dit is duidelik dat daar ‘n saak is om met die Here uit te maak voordat jy van ‘n slegte gewete wat jou weens jou sonde veroordeel, gereinig sal word. ‘n Vinnige, kollektiewe sondebelydenis sal nie deug nie. Dit help nie om net vir die Here te sê: “Vergewe al my sondes” en daarmee die saak as afgehandel te beskou nie. Jy moet ordentlik gaan huis skoonmaak en die sondes een vir een bely soos wat die Heilige Gees jou daarvan oortuig. Slegs dán voldoen jy aan die Here se voorwaarde van ‘n deeglike en eerlike selfondersoek, en ‘n belydenis van jou sonde wat nie net met die verstand nie, maar ook met die hart gedoen is.
‘n Belangrike vereiste by die belydenis van sonde en die aanvaarding van die Here Jesus as jou Verlosser, is dat dit in die geloof gedoen moet word. ‘n Sondaar wat dood is in sy sondes en misdade en nog nie op die Here se roepstem ag geslaan het nie, het geen geloof nie – hy is nog ‘n ongelowige met ‘n verharde hart. Wanneer hy egter die evangelieboodskap gehoor en ontwaak het om sy sondes en verlore toestand te besef, skenk die Here aan hom bekeringsgenade. Hy kan dan in die geloof om redding tot die Here uitroep soos wat die berouvolle tollenaar in die tempel gedoen het, en weet dat die Here hom sal verhoor: “O God, wees my, sondaar, genadig!” (Luk. 18:13).
Paulus sê die volgende oor die verkryging van geloof om jou sondes te bely en die Here as jou Verlosser te ontvang: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Rom. 10:17).
Wanneer ‘n sondaar na ‘n goeie bekeringsboodskap luister, die Bybel of ‘n Christelike boek lees, wek die Heilige Gees geloof in sy hart op om te kan glo wat hy hoor, en ook daarop te reageer. Soms sê mense dat hulle nie kan glo nie. Die oplossing is nie om die probleem teologies weg te redeneer of om iemand oor te haal om net met sy verstand te probeer glo nie, maar verdere blootstelling aan die Woord van die Here. Die beginsel bly steeds dat die geloof deur die Woord van God is. Laat die persoon lang gedeeltes in die Nuwe Testament lees en ook na evangeliese preke luister. Geloof sal weldra in sy dorre siel uitgestort word as hy met die lewende Woord omgaan. Die Here Jesus het gesê: “Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Joh. 6:63).
Wanneer hy kan glo, en ook ‘n wilsbesluit geneem het om Jesus Christus as Verlosser in sy lewe te ontvang, kan hy in volle geloofsversekerdheid na die troon van genade gaan om vryspraak te verkry:
“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6).
Die Here Jesus kan “volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Heb. 7:25). Glo jy dit? Dan is die deur van genade ook vir jóú oop om God se vergifnis deelagtig te word.
Deur die geloof tree jy op hierdie nuwe en lewende weg tot die genadetroon toe waar jy jou sondes bely en die Here Jesus as jou Saligmaker ontvang. Dit is ‘n stap van bekering. In reaksie hierop sal die Here sy kant van die ooreenkoms nakom en sy genadewerk van reiniging en herskepping in jou doen. Volgens 1 Johannes 1:9 is Hy getrou en regverdig om jou sondes te vergewe en jou van alle ongeregtigheid te reinig. Hy het beloof om niemand wat na Hom toe kom, uit te werp nie (Joh. 6:37).
Om in die Here Jesus te glo (Joh. 3:16; Hand. 16:31) moet daar oor sy unieke posisie as Verlosser geen onduidelikheid wees nie. Ek moet glo:
• dat Hy die waaragtige God is wat die enigste Redder van die wêreld is (1 Joh. 5:20; Luk. 19:10);
• dat ek slegs op grond van sy kruisdood met God versoen kan word (Kol. 1:20); en
• dat die Here Jesus my koop met sy bloed wanneer Hy my red, en dat ek dus sy eiendom word om in die uitbreiding van sy koninkryk deur Hom gebruik te word (1 Kor. 6:19-20; 1 Pet. 1:18-19).

4. Regverdigmaking:
Die sondaar se redding deur die Here sluit twee duidelike aspekte in, naamlik die uitdelging van al sy sondeskuld (regverdigmaking), en ook die gawe van die ewige lewe wat aan hom geskenk word (wedergeboorte). Hierdie twee sake is nóú aan mekaar verbonde en vind gelyktydig plaas. Sondaars is geestelik dood as gevolg van hulle sondes, en moet dus vergewe én geestelik lewend gemaak word.
Die grondslag vir die vergifnis van ‘n mens se sonde is die kruisdood van die Here Jesus, waardeur Hy die doodstraf vir ons sonde betaal en sodoende sy genade en liefde vir ‘n verloregaande mensdom bewys het:
“…want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof” (Rom. 3:23-25).
“Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:5).
“In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7).
Elkeen van ons het ‘n skuldbrief, of ‘n klagstaat van sonde, op grond waarvan die duiwel ons by die Here aankla en op ons lewe aanspraak maak. Hierdie lys van onbelyde sondes is ook die rede waarom ons geestelik dood is. Die vraag is nie of die Here voldoende voorsiening vir die vergifnis van ons menigvuldige sondes en misdade gemaak het nie – Hy hét dit gedoen! Die vraag is of jy al voor Hom gekniel en jou sondes met berou bely het? Indien wel, dan sal Hy jou deur middel van toegerekende geregtigheid regverdig verklaar én ook ‘n nuwe lewe aan jou skenk:
“En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael” (Kol. 2:13-14).

5. Wedergeboorte:
Die konsep van wedergeboorte is van die allergrootste belang by die redding van sondaars. Hierdeur sê die Here in sy Woord:
• dat ons geestelik dood was weens ons sonde, en deur Hom lewend gemaak moet word; en
• dat ons ou lewe tot in sy kern verdorwe is en glad nie gerehabiliteer of verbeter kan word nie – ons moet nuut gemaak word deur die wedergeboorte om deelgenote van sy koninkryk te kan word.
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3).
Die wedergeboorte dui ook op die opstandingslewe van die Here Jesus, waaraan ons gelykvormig moet word (Rom. 6:5). Op grond van sy kruisdood moet ons van ons sonde verlos word en ook daarvoor sterwe, en terselfdertyd lewend gemaak word in Hom sodat ons deelgenote van sy opstandingslewe kan word:
“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode” (1 Pet. 1:3).
Hy vergewe nie net jou sondes nie – Hy maak ook van jou ‘n nuwe mens. Het jy Jesus Christus, die vleesgeworde Woord, al só leer ken deur sy Woord dat jy die onontbeerlike belofte oor wedergeboorte in die geloof aanvaar het? (1 Pet. 1:23). As jy maar sy roepstem tot redding gehoor en daarop ag geslaan het (Ef. 5:14). Die Heilige Gees doen die werk van wederbaring in jou hart op grond van Christus se soenverdienste aan die kruis:
“...na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser” (Titus 3:5-6).
Die eerste stap wat ‘n weergebore persoon moet neem, is om van sy redding te getuig. Volgens Romeine 10:9-10 móét ek met my mond die Here Jesus bely as ek waarlik gered is. Die eerste belydenis met my mond is teenoor Christus self wanneer ek Hom as my Verlosser aanneem. Daarna getuig ek teenoor ander mense van die feit dat Hy my siel uit genade gered het.
Hierdie getuienis word ook uitgedra deurdat ek myself as ‘n gelowige laat doop – m.a.w. ná my bekering (Mark. 16:16). ‘n Getuienis van geloof in die Here Jesus as jou Redder is ‘n voorvereiste vir die doop, omdat die doop self jou nie kan red nie. Die hofdienaar het vir Filippus gevra: “Wat verhinder my om gedoop te word?” Die antwoord was: “As u glo met u hele hart, is dit geoorloof.” Die hofdienaar se antwoord was: “Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is” (Hand. 8:36-37). Daarna is hy gedoop. Paulus en ander bekeerlinge is ook kort ná hulle redding gedoop (Hand. 9:18; 10:47-48; 16:31-33). Uit die sendingopdrag in Mattheus 28:19 is dit baie duidelik dat redding deur die doop gevolg word, en daarna deur heiligmaking, waarin jy intensief in die weë van die Here onderrig word.

6. Heiligmaking:
Aan die ware kerk van Jesus Christus, m.a.w. diegene wat reeds wedergebore is, kom die uitdruklike opdrag in die Bybel om hulleself te verloën, met die Heilige Gees vervul te word, rein en ingetoë te leef en vrug te dra wat by die bekering pas. Die eerste opdrag op die pad van heiligmaking en dissipelskap word duidelik aan ‘n stap van selfverloëning en selfkruisiging verbind:
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23).
Volgens Lukas 14:27-33 staan die kruis van selfverloëning in verband met die kosteberekening vir dissipelskap. Jy moet ‘n keuse maak of jy die hartstogte en begeerlikhede van die vlees (dit is die ou, wêreldsgesinde natuur met al sy neigings) wil bevredig, en of jy werklik bereid is om van daardie dinge af te sien en die Here met jou hele hart en alles wat jy het, te dien.
Jy kan nie die rykdom en eer van die wêreld najaag én ook nog die Here Jesus behaag en dien nie. Dit is onversoenbare ideale. Kan jy saam met Paulus getuig dat net die gekruisigde Here Jesus werklik vir jou belangrik is, en dat jy jouself deur sy kruisdood ook as dood vir die wêreld en sy begeerlikhede beskou?
“Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Gal. 6:14).
As jy vasberade die sondige begeerlikhede van die ou natuur aflê, dan sál die Here jou met sy heiligheid en oorwinningskrag beklee. Die oue mens móét eers afgelê word voordat jy met die nuwe mens beklee kan word:
“Wat die vorige lewenswandel betref [moet julle] die oue mens aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan... en julle met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22, 24; beklemtoning bygevoeg).
‘n Kruis van selfverloëning moet elke dag opgeneem word sodat die ou natuur gekruisig kan bly, anders sal jy geestelik veragter (Heb. 12:14-15). Vanuit ‘n oorgegewe posisie kan jy in die geloof erns met die volgende opdragte maak, omdat jy aan die Here se voorwaarde van selfverloëning voldoen:
• “...word met die Gees vervul” (Ef. 5:18).
• “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:15-16; vgl. Lev. 11:44-45).
• “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking... hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3,8).
Deur die ondervinding van heiligmaking en my voortgesette toewyding daarna, maak die Here van my ‘n rein kanaal waardeur Hy hier op aarde kan werk. Hy rus my toe om die vrug van die Gees te dra, teen die aanslae van Satan te triomfeer (Ef. 6:10-11), aan die eise van dissipelskap te voldoen, te midde van teëstand of versoekings by my beginsels en geloofsoortuigings te bly, alle laste en sondes af te lê en end-uit op die smal weg te volhard (Heb. 12:1-2).
Deur te versuim om aan die opdrag tot heiligmaking te voldoen, beperk die meeste Christene hulleself tot die betreurenswaardige lae geestelike standaard van die selfgesentreerde en vleeslike gemeente in Korinthe. Ná hulle redding het hulle geestelik gestagneer. Paulus sê:
“En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3).
Die meeste kerke in die wêreld word knaend deur die probleme van ‘n geestelik passiewe, vrugtelose, kragtelose, biddelose, bemoeisieke, twisgierige en vleeslike Christendom geteister. Dan praat ons nie eers van die groot aantal naamchristene wat glad nie gered is nie en net ‘n gedaante van godsaligheid het (2 Tim. 3:5). Wat nog meer verontrustend is, is die groot aantal stemme van veroordeling wat uit hierdie dekadente en afvallige kerke opgaan om ‘n aanval op die leer van heiligmaking as ‘n tweede genadewerk te doen!
Toe dr. Andrew Murray die leerstellings oor wedergeboorte en heiligmaking in hulle volle diepte en met groot oortuiging verkondig het, was daar herlewing in verskeie gemeentes in Suid-Afrika. Siele is gered en baie Christene is met die Heilige Gees vervul. Hulle het getuies vir die Here Jesus geword en die evangelie ook na die sendingvelde in Afrika uitgedra.
Die instaatstellende krag van die Heilige Gees is ook tot ons beskikking om in hierdie laat uur groot dinge vir die Here te doen. Dit hang af of ons die Here met ons hele hart wil dien. Sal Hy ons besig vind met die uitvoering van die groot opdrag van wêreldevangelisasie wanneer Hy spoedig kom om ons te kom haal? Of sal ons dalk as gevolg van ons nalatigheid en lae standaarde in die geselskap van die kompromiemakende, vormgodsdienstige en slapende kerk van die eindtyd gevind word?
Die Here Jesus wil nie passiewe volgelinge hê wat net in Hom glo en verder niks vir die uitbreiding van sy koninkryk in ‘n verloregaande wêreld doen nie. Hulle moet getuies van sy reddende genade wees en ook ‘n aktiewe gebedslewe lei. Jesus waarsku duidelik:
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21).
Deur die krag van die Heilige Gees is dit moontlik om ‘n godvrugtige lewe te lei en die wil van ons hemelse Vader te doen. Hy wil hê dat ons, geestelik gesproke, die lig van die wêreld moet wees.
Ons werk nie vir die Here om gered te word nie [werke-heiligheid], maar omdat ons gered is. Die Here Jesus het gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). Ons is gestuurdes, en het ‘n groot taak om te vervul. Hiertoe wil die Heilige Gees ons daagliks toerus en gebruik. Is jy beskikbaar?

7. Verheerliking:
Die laaste stap op die heilsweg is verheerliking. Dit sal by die eerste opstanding plaasvind, wanneer al die ontslape én lewende Christene met hulle onsterflike opstandingsliggame beklee word. Paulus sê:
“Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Kor. 15:51-52).
Die volle besonderhede van ons verheerlikte posisie in die hemel is nog nie aan ons geopenbaar nie, maar ons weet dat wat ons onverganklike opstandingsliggame betref, ons aan Christus gelyk sal wees. Hy sal steeds die Hoof van die gemeente wees, maar ons sal saam met Hom wees en in sy onuitspreeklike heerlikheid deel:
“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21).
“Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:2-3).
In afwagting op ons verheerliking moet ons nóú vir ons hemelse bestaan voorberei word, en in alle opsigte rein en heilig leef. Vir ons toekomstige verheerliking is dit van groot belang hoedanig ons geestelike lewe op aarde daar uitsien. Behalwe dat ons wedergebore moet wees, word ons ook opgeroep om Geesvervulde lewens te lei en die Here te dien. Vir ons arbeid in die Here sal ons genadeloon voor die Regterstoel van Christus ontvang (2 Kor. 5:10). Die volgende krone word genoem:
• Die kroon van roem vir sielewenners (1 Thess. 2:19);
• die onverwelklike kroon vir ‘n heilige, oorwinnende lewe (1 Kor. 9:24-25);
• die kroon van die lewe vir Christenmartelare, en ook almal wat swaar beproef is (Op. 2:10; Jak. 1:12);
• die kroon van heerlikheid vir getroue herders wat andere geestelik opgebou het (1 Pet. 5:2-4); en
• die kroon van geregtigheid vir dié wat Jesus Christus se koms liefgehad het (2 Tim. 4:8).
Tref deur ‘n lewe van heiligmaking voorsorg dat jy nie eendag by die verheerliking van die gelowiges met leë hande voor die Here sal staan nie (1 Kor. 3:15; Luk. 19:20-23), maar as ‘n getroue dienskneg bevind sal word aan wie daar gesê kan word: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou Heer” (Matt. 25:21).
Dit is duidelik dat die Here Jesus nie net gekom het om mense van die ewige hel te red nie, maar om dissipels te maak. Hy wil nie net jou Verlosser wees nie, maar ook jou Koning, Hoëpriester, Voorspraak, Leidsman en hemelse Bruidegom. Dit is waarom Hy jou hele lewe wil vernuwe en vir sy diens op aarde toerus.
Jy word uit die duisternis geroep tot sy wonderbare lig, en daarna toegerus om oorwinnend te leef en jou plig in die evangelisering van die wêreld te doen. In dié opsig is jy ‘n medewerker van God in Christus Jesus (1 Kor. 3:9), en nie ‘n passiewe meeloper nie. Jy word ook in hierdie lewe voorberei om eendag saam met die Here Jesus as koning te regeer (Op. 5:9-10). Jy moet eerstens leer om in jou eie lewe oor sonde en ongeregtigheid te oorwin. In die gesag en Naam van Christus moet daar dan uitbeweeg word om oorwinnings vir sy koninkryk in hierdie bose wêreld te behaal. Moet dus nie by die toetreepunt van redding vassteek nie, maar loop die hele pad met die Here. Leer om sy wil te doen sodat jy ‘n gesant van Jesus Christus kan wees wat daarna streef om Hom in alles te behaag.
Ek wil jou uitdaag om jouself geestelik baie krities in die lig van die Here se Woord te evalueer. Ondersoek jouself of jy in die geloof is, m.a.w. of jy hoegenaamd gered is (2 Kor. 13:5). Hieronder is ‘n lys van valse fondamente waarop baie mense hul lewens bou, terwyl hulle in die selfmisleidende veronderstelling leef dat hulle Christene is wat op pad hemel toe is. Jy moet volkome duidelikheid oor jou werklike geestelike stand voor die Here hê omdat jou ewige toekoms daarvan afhang. Daar moet geen twyfel hieroor wees nie, omdat vormgodsdienstiges almal verlore gaan (Matt. 7:22-23).
Indien jy die getuienis van die Heilige Gees in jou hart het dat jy deur die wedergeboorte ‘n kind van God is, kyk dan of jou lewe aan die verwagtings van die Here voldoen. Dra jy vrugte wat by die bekering pas, en gebruik jy die talente wat Hy aan jou gegee het in sy diens? (Matt. 25:14-30). Die Here gaan aan al sy diensknegte vra wat hulle met hul lewens en talente gedoen het. “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:12). Op daardie dag sal “elkeen sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang” (1 Kor. 3:8). Doen jy werke wat ewigheidswaarde het?
Valse fondamente
Daar bestaan ‘n ernstige gevaar van valse fondamente wat deur die sielevyand en sy medewerkers aan mense gebied word wanneer hulle na die Here soek. Sy eerste mikpunt is om hulle van redding te weerhou en by vormgodsdiens te laat berus. Indien hy nie daarin kan slaag nie, probeer hy om hulle geestelik op ‘n syspoor te laat beland, moedeloos te maak en deur dwalings en wêreldgesindheid die krag van die Heilige Gees te laat verbeur. Hieronder is ‘n aantal van die valse fondamente waarop baie mense se lewens gebou is:

8. Onduidelike roeping:
As gevolg van oppervlakkige prediking en boeke met flou, afgewaterde boodskappies ontvang baie mense nie ‘n duidelike roeping om hulle saak met die Here reg te maak nie. Hulle word aan die slaap gesus en onder die indruk gelaat dat hulle Christene is as hulle lede van ‘n Christelike kerk is, ‘n Christelike geloofsbelydenis huldig en ook Nagmaal gebruik. As gevolg hiervan soek hulle nie na ‘n ontmoeting met die Here nie en gaan met ‘n gedaante van godsaligheid deur die lewe – dit is ‘n skyn van Christenskap sonder wedergeboorte (2 Tim. 3:5).

Morele beoordeling:
Dikwels word die idee aan mense opgedis dat aangesien hulle goeie mense is, hulle aan die standaard van Christenskap voldoen. As gevolg hiervan kom hulle nooit werklik onder sonde-oortuiging nie en besef nie hulle verlore toestand nie. Hierdie houding lei daartoe dat hulle in hul morele onberispelikheid roem en daarop ingestel is om goeie dade te doen waardeur hulle die guns van die gemeenskap, die kerk én die Here kan wen. Hierdie goeie mense gaan egter verlore omdat hulle nie geestelik weergebore is nie. Hulle besef nie dat hul goeie lewens sonder bekering vir God wegwerplik is nie, en leef in hulle noodlottige onkunde voort.

9. Verbondsteologie:
Duisende mense baseer hulle Christenskap op die onbybelse aanname dat die uitverkiesing en die kinderdoop hulle in ‘n ewige verbondsverhouding met die Here plaas, en dat hulle op grond hiervan vir altyd veilig in sy hand is. Redding en wedergeboorte word dus nie deur hulle as noodsaaklik beskou nie. Die opsigtelike feit dat baie van dié mense ten spyte van hulle kerklike ritualisering nie kinders van die Here is nie, en steeds deur hulle sondige natuur oorheers word, word geïgnoreer en aan die algemene sondigheid van alle Christene toegeskryf. Hulle meen dat hulle posisioneel salig en heilig is sonder ‘n morele plig om daagliks heilig en onberispelik te leef. Hierin is ‘n groot dwaling opgesluit, want só ‘n persoon probeer om ‘n matige sondaar te wees en vir die vergifnis van sekere sondes te bid, sonder om ooit sy totaal verdorwe toestand voor die Here te erken en om die redding van sy siel te bid.

10. Kopbekerings:
Ons leef in ‘n tyd waarin baie van die prediking slegs in oorredende woorde van menslike wysheid is, en nie in die betoning van gees en krag nie (1 Kor. 2:4). Die gevolg is dat net die mens se verstand deur koue teologiese argumente aangespreek word, en nie sy gees en siel nie. Só ‘n persoon bely die Here met sy lippe, maar sy hart is ver van Hom af (Matt. 15:8-9). Sy verstand sê vir hom dat hy ‘n Christen is en deur die Heilige Gees gelei word, terwyl dit dalk hoegenaamd nie die geval mag wees nie (Luk. 16:15). Sy hart is steeds koud en onaangeraak, omdat hy slegs ‘n kopbekering ondergaan het. Hierdie persoon het nie ‘n Heilige Gees gewerkte berou oor sy sonde gehad nie, en sy lewe het net oppervlakkig verander.
Emosionele bekerings
Dikwels word mense net emosioneel geraak en neem dan ‘n besluit wat nie uit geloof voortspruit nie, maar uit ‘n emosie. ‘n Besluit van dié aard bring geen blywende verandering nie en verloor ná ‘n tyd sy effek:
“En by wie op rotsagtige plekke gesaai is – dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik” (Matt. 13:20-21).
Let daarop dat die betrokke persoon die woord met blydskap aangeneem het. Dit is ‘n emosie en moet nie met geloof verwar word nie. Oppervlakkige emosionele en verstandelike bekerings wat nie op ‘n dieper geloofsaanvaarding van die Here Jesus as Verlosser uitloop nie, is valse bekerings. Sulke persone het selfs datums waarop hulle sogenaamd tot ‘bekering’ gekom het, maar dit baat hulle niks nie. Hulle mislei hulleself daardeur.

11. Goedkoop genade:
Goedkoop genade word deur baie predikers as ‘n geskenk aangebied wat onvoorwaardelik deur almal verkry kan word. Hoewel dit ‘n gawe van God is [‘n geskenk] is dit nogtans nie goedkoop nie omdat dit aan duidelike voorwaardes gekoppel is. Sonde moet eers met berou bely en laat staan word voordat vergifnis verkry word. Dit help nie om net lippediens aan die Christelike verlossingsleer te bewys en te dink dat jou saak met die Here dan reg is nie. Op hierdie maklike wyse sal jy nooit die getuienis van die Heilige Gees in jou hart ontvang, wat saam met jou gees sal getuig dat jy ‘n kind van God is nie (Rom. 8:16). Volg die weg van die Here, en laat sy Gees toe om jou diep onder die indruk van jou sonde en verlorenheid te bring, maar ook van die geregtigheid en genade van die Here Jesus. Dan alleen sal jy op die regte koers vir ‘n grondige en blywende herskepping van jou lewe wees.

12. Kitsbekerings:
Ons leef in ‘n tyd van maklike kitsoplossings en massaproduksie. Ongelukkig het massa-evangelisasie in baie opsigte ook by hierdie denkwyse ingeskakel en ‘n moderne bedryf geword wat op vinnige resultate ingestel is. Sonder om persoonlike aandag aan mense te gee, word groot groepe ná uitnodigings gelei om ‘n kort gebedjie agter ‘n prediker aan te bid, waarna hulle salig verklaar word. Baie van hulle is dan nog net aan die beginstadium van sonde-oortuiging. Hulle het nog nie ‘n behoorlike kosteberekening gemaak en met berou belydenis van hulle sondes gedoen nie, wanneer die proses kortgeknip en as afgehandel beskou word. Hulle word daarna gemaan om nooit aan hulle redding te twyfel nie, terwyl dit dalk glad nie eers plaasgevind het nie.
‘n Ontnugtering en valse bekering van hierdie aard ontmoedig sulke persone om weer te probeer. Sommiges wat vir die stap gereed was, kan wél onder sulke omstandighede gered word, maar aan baie ander se siele kan onberekenbare skade gedoen word. Besluiteloosheid is sleg, maar so ook geforseerde besluite. Net berekende besluite onder die leiding van die Heilige Gees, wat uit ‘n sterk sonde-oortuiging gebore is, sal die toets deurstaan. Mense kan ons nie salig verklaar nie – net God kan dit doen deur sy Gees (Rom. 8:16).
13. Selfbejammering:
Dikwels ly mense aan selfbejammering oor hulle mislukte lewe, of oor dinge wat met hulle gebeur het. Hieruit kan geestelik niks goeds kom nie, want “die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Kor. 7:10). Berou wat uit sonde-oortuiging kom, kom van die Heilige Gees af en lei jou na die kruis waar die oplossing vir jou sonde en verlorenheid is.
Selfbejammering laat jou egter na troos, meegevoel en verontskuldiging soek. Op dié pad sal jy na jou eie ondergang voortstrompel – dit lei nie na bekering, ‘n hartsverandering en die einde van jou sorge nie. Ontdek jou eie aandadigheid aan jou probleme onder die oortuiging van die Heilige Gees. Dan sal daar ‘n sielsdeursoekende droefheid oor jou kom wat jou om genade na die Here sal laat roep.
‘Alle Christene is met die Gees vervul’
Op grond van die feit dat die Heilige Gees mense wederbaar, word dikwels beweer dat alle Christene reeds met Hom vervul is. Hierdie stelling is lynreg in stryd met die Bybel en weerhou baie Christene van ‘n Geesvervulde, oorwinnende lewe. Sonder ‘n volle oorgawe kom die ongekruisigde, vleeslike natuur in jou met die inwonende Heilige Gees in botsing (Gal. 5:17). In hierdie toestand sal jy nie vir die Satan en sy ryk ‘n groot bedreiging wees nie. Indien jy egter die kruis van selfverloëning opneem en om die vervulling met die Heilige Gees bid (Luk. 9:23; Ef. 5:18), dan neem Hy beheer van jou lewe oor. “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16).

13. Ervaringsteologie:
‘n Dwaling wat vinnig veld wen, is dat wanneer die krag van die Heilige Gees oor ‘n persoon kom en hy val en lag in die Gees, dan het die Here sy lewe verander. Só word die noodsaaklikheid van sonde-oortuiging en sonde-belydenis omseil, en word mense op grond van fisiese manifestasies van ‘n “gees” salig verklaar. Dié ervaringsteologie berus op buite-Bybelse openbarings. Daar word hoofsaaklik op mense se emosies en sintuie gekonsentreer, terwyl hulle op die geestelike vlak onwedergebore bly. Daar word nie ‘n Bybelse geloof in hulle harte gevestig nie – net ‘n vorm van misleiding, of bygeloof, wat op die belewenis van vreemde, bonatuurlike manifestasies gebaseer is. Dit is duidelik dat sulke mense nie in staat is om geestelike vervalsings te kan onderskei nie (2 Kor. 11:3-4), en dikwels van die een dwaling na die ander beweeg.
Die nie-veroordelende evangelie
Verskeie van die valse fondamente wat hierbo genoem is, het in die moderne kerkgroeibeweging saamgevloei en vorm die grondslag van talle mega-gemeentes. Die nie-veroordelende evangelie van sommige bekende predikers maak hul kerke meer verbruikersvriendelik omdat daar nie aan ongereddes aanstoot gegee word deur hulle sondaars te noem nie. Dit is ‘n ‘Christelike’ vorm van positiewe denke waarin negatiewe onderwerpe soos sonde, Satan, die Antichris, geestelike misleiding, die kruis en God se oordele oor sondaars, vermy word. Die volle implikasies van Christus se kruisdood, waar Hy sy bloed gestort en sy lewe afgelê het om God se toorn oor berouvolle sondaars af te wend, word nie verkondig nie.
‘n ‘Evangelie’ waarin baie mooi dinge oor die Here Jesus en sy seëninge vir alle Christene gesê word, maar sonder om die verwoestende gevolge van sonde en die donker toestand van ongeredde sondaars binne die verband van God se toorn oor die sonde te noem, is ‘n siellose evangelie wat die kruis en die bloed vermy. Selfs al word positiewe gedagtes 40 dae lank bedink, bring dit nie groter duidelikheid oor verlossing en die groot prys wat ons saligheid vir God gekos het nie.
Wanneer ons nalaat om hierdie belangrike aspek van die verlossingsleer te verkondig, verval daar ‘n groot deel van die evangelie-boodskap en kan Christenskap maklik deur menslike motiveringstegnieke vir persoonlike en sosiale transformasie vervang word. Sulke predikers is nie met Heilige Gees-gedrewe programme besig nie en raak ook meer verdraagsaam teenoor sonde.

14. Groei in genade:
Daar moet altyd vooruitgang en groei na volwassenheid in ‘n Christen se lewe wees. Nadat hy uit die duisternis tot die lig gekom het, moet daar voortgesette vordering op die pad van die Here wees: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe” (Spr. 4:18). Om dit te verseker, moet ons elke las aflê én die sonde wat ons so maklik omring en met volharding die wedloop loop (Heb. 12:1).
Die volgende gedagtes oor groei in genade is deur die herlewingsprediker, Charles Finney, as riglyne aan jong bekeerlinge uit sy evangelisasie-veldtogte verskaf:
“Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18).
Genade is onverdiende guns. In die Bybel dui die woord genade dikwels ‘n geskenk aan. Die genade van God is dus die guns van God, sy geskenk aan ons.
Die opdrag om te groei in genade verbind ons nie aan die beginsel om die sonde geleidelik af te lê en te laat staan nie. Vreemd genoeg is daar mense wat so dink, maar nêrens gebied die Bybel ons om die sonde bietjie vir bietjie te laat staan nie. Dit word van ons verwag om onmiddellik en volkome daarmee te breek. Ons moet in God se guns toeneem, in sy beoordeling van ons, en dus in die waardigheid van ons lewenswandel.
Voorwaardes vir geestelike groei
Ons is in God se genade. Net soos wat die groei en toename in enigiets ‘n begin het, impliseer die groei in God se guns dat ons reeds guns in sy oë gevind het. Ons is in die genade omdat ons deur Hom begunstig is.
Ons sondes is afgelê en vergewe. ‘n Groei in genade berus op die veronderstelling dat ons onsself reeds van alle bekende sondes bekeer en dit afgelê het. Om deur God aanvaar te word, beteken dat Hy ons ter wille van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, vergewe en in guns aanneem. Sy gunsbewys vereis dat ons alle vorms van rebellie teen Hom sal staak, omdat die Bybel duidelik aantoon dat die voorwaarde vir God se guns die versaking van alle bewuste sondes is, asook geloof in Christus om ons sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Ons kan nie God se guns geniet terwyl ons bewustelik in sonde teenoor Hom leef nie. Om in genade te kan groei, moes genade al begin het.
Voortdurende groei. Wanneer ons in hierdie toestand is, is daar geleentheid vir voortdurende groei. Soos wat ons God beter leer ken, sal ons ook in staat wees om Hom meer te kan liefhê en ‘n breër en dieper vertroue in Hom te stel. Ons liefde en geloof in Hom kan volkome wees tot die mate waartoe ons Hom ken, en dit sal sy guns oor ons lewe verseker. Die potensiaal van ons groei in genade en kennis van Hom is eindeloos. Hoe meer ons liefhet en glo, des te beter sal ons God ken soos wat Hy Homself deur Jesus Christus aan ons openbaar. Terselfdertyd sal ons in sy guns toeneem en ook meer en groter gawes van Hom ontvang.
Volkome toewyding. Om in die genade te kan groei, moet ons ook groei in ons kennis van wat dit behels om onsself geheel en al aan Christus oor te gee. ‘n Ware bekering sluit die toewyding van onsself, en alles wat ons het, aan die Here in. Jong gelowiges is egter nog nie van die volle implikasies van hoër vorms van toewyding bewus nie. Aanvanklik dink hulle net daaraan om hulle siele te ontbloot, op die altaar te plaas en aan God te wy. Daarna word dit duidelik dat hulle nog nie hulle besittings en ander dinge naby hulle aan die Here oorgegee het nie. Hulle aanvanklike oorgawe was volkome volgens die lig wat hulle gehad het, maar hulle het toe nog nie volle insig in alles gehad nie. Die gevolg is dat hulle nie elke voorkeur, neiging en begeerte volledig aan God oorgegee het nie. Om kennis hieroor te kry, neem tyd.
‘n Voorwaarde om in God se guns toe te neem, is om alles wat ons is, wat ons het, begeer en liefhet ten volle aan Hom oor te gee die oomblik wanneer dit tot ons kennis kom. Soos wat ons kennis toeneem, sal die Here ons roep om ook in genade toe te neem deur elke objek van ons kennis, begeertes en liefde aan Hom toe te wy. Soos wat jy meer lig ontvang, moet jou toewyding ook elke dag en elke uur toeneem, anders sal jy ophou om te groei. Die oomblik wanneer jy iets terughou en nalaat om dit op die altaar van toewyding te plaas, sal jy ophou om te groei in genade. Laat hierdie waarheid diep in jou hart insink.
Verdiep jou geestelike kennis. Jy moet deur die verligting van die Heilige Gees altyd na dieper geestelike insig soek. Jy kan geen besondere geestelike insig verkry as die Gees jou nie leer en in dieper waarhede inlei nie. Bid vir sy onderrig en waak daarteen om Hom te weerstaan of te bedroef. Deur die Gees wil Christus jou leermeester wees.
Pas jou lewenswyse hierby aan. ‘n Verdere voorwaarde vir groei is dat jy jou oortuigings en lewenswyse voortdurend by die onderrig van die Heilige Gees moet aanpas. Jou Christelike ervaring moet dus verdiep tot dieselfde mate as wat die oortuiging van jou plig en die kennis van God se wil in jou hart verdiep.
‘n Volkome geloof in God. Ons het behoefte aan ‘n vertroue in God wat só volkome is dat ons in donker tye net so onwrikbaar in Hom sal glo as in tye van voorspoed, ongeag of ons sy weë verstaan of nie. ’n Volkome geloof is die geloof van ‘n Abraham, wat nie gewankel het nie al het God se belofte ook hoe onwaarskynlik gelyk. Só ‘n geloof rus onvoorwaardelik in God, in sy beloftes, sy getrouheid en sy liefde; dit maak nie saak hoe veeleisend en oënskynlik onredelik die Here se opdragte of sy leiding deur omstandighede is nie.
Volkome heiligmaking. ‘n Volkome geheiligde siel, die sentrum van ons begeertes, gevoelens en emosies, is nog ‘n voorwaarde om in God se guns te kan groei. In sy gevalle toestand is die menslike natuur sleg en bedorwe. Selfs al onderwerp jy jou wil aan God, kan versoeking nog steeds deur jou siel op jou inwerk en jou probeer weglok. Die wil veg teen hierdie begeerlikhede om hulle aan God se wil onderworpe te hou. Indien die menslike wil sy integriteit behou en aan God se wil vashou, word sonde nie gedoen nie.
Hierdie rebelse neigings hinder nogtans die wil in die diens van God en weerhou geestelike groei, “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Soos wat die siel meer en meer onderwerp word en in harmonie met die wil se toewyding aan God kom, raak ons vry om onbelemmerde diens aan God te bewys. Hoe meer volkome die heiligmaking van die siel, des te meer sal ons in God se guns verkeer. Hy wil ons gees en siel en liggaam volkome heilig sodat elke aspek van ons lewens rein en aan Hom toegewyd kan wees (1 Thess. 5:23-24).
Vervulling met die Heilige Gees. Om in die Here te kan groei, vereis ‘n groter teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons lewens. Ek kan dit nie sterk genoeg beklemtoon nie dat elke stap in die Christen se lewe onder die leiding van die Heilige Gees geneem moet word. Streef daarna om deur die Heilige Gees onderrig te word, sodat Hy jou in alle sake kan lei. “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). “As julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Rom. 8:13). Om in genade te kan groei, moet jy ook in die volheid van die Heilige Gees in jou hart groei. Hy sal jou in die hele waarheid van God se Woord lei (Joh. 16:13).
‘n Meer intieme wandel met Jesus Christus. Ons moet Jesus beter leer ken en meer intiem met Hom wandel. Hy is ‘n Persoon en ons moet ‘n persoonlike verhouding met Hom handhaaf. Daar in sy heilige teenwoordigheid “word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid” (2 Kor. 3:18). Jesus het beloof om Homself te openbaar aan almal wat Hom liefhet en aan Hom gehoorsaam is. Ken Hom in al sy volheid deur Hom in die geloof vir elke aspek van jou verhouding met Hom te aanvaar. Beklee jouself met die Here Jesus en eien Hom vir jou toe, want Hy is jou wysheid, geregtigheid, heiligmaking en verlossing; jou Profeet om jou te leer, jou Koning om jou te regeer, jou Hoëpriester om versoening vir jou te doen, jou Middelaar by die Vader, jou Advokaat, jou krag, jou Verlosser, jou skuilplek, jou Leidsman, jou skild, jou verdediging en jou beloning. Ken Hom in elkeen van hierdie hoedanighede deur Hom in die geloof toe te eien en te vertrou. Dit is ’n onontbeerlike voorwaarde vir groei in genade.

15. Valse tekens van groei in genade:
Daar is ‘n aantal dinge wat jou kan mislei om te dink dat geestelike groei plaasvind, terwyl dit in werklikheid nie die geval is nie. Die volgende is valse tekens van groei:
• Die groei in kennis is nie ‘n absolute bewys van groei in genade nie. Toenemende kennis is ‘n voorwaarde vir toenemende genade. Kennis in sigself is egter nie genade nie, dus lei ‘n toename in kennis nie noodwendig tot ‘n toename in genade nie. ’n Persoon kan ontplof van kennis en nogtans geen genade hê nie. Toenemende kennis van die Bybel moet na ‘n dieper toewyding aan die Here lei, anders word dit nie in ‘n geestelike bate omskep nie.
• ‘n Groei in gawes is nie noodwendig ‘n bewys daarvan dat ‘n individu nader aan die Here leef nie. ‘n Persoon wat bely dat hy Christus ken, kan beter bid en preek sonder dat hy noodwendig meer heilig is. Sulke aktiwiteite kan deur oefening aangeleer word. Dit is baie algemeen dat mense wat geen guns by God geniet nie, in allerlei uiterlike godsdienstige gebruike uitblink.
• Die feit dat ‘n persoon dink dat hy geestelik groei, beteken nie dat dit wél so is nie. Soms is mense baie beïndruk met hulle eie vooruitgang, terwyl dit vir ander duidelik is dat hulle agteruitgaan. Iemand wat geestelik besig is om te veragter en te kwyn, is selde daarvan bewus. Ons beoordeel altyd ons geestelike statuur volgens een of ander standaard. Indien ons Christus in al sy volheid as ons standaard neem, sal ons altyd ons prestasies laag beoordeel. As ons egter die kerk of ons vriende as maatstaf neem, sal ons moontlik onsself as geestelike reuse sien.
Bewyse van groei in genade
Daar is verskeie bewyse in ons geestelike lewe dat ons in God se genade groei:
• ‘n Meer volkome en kinderlike geloof in God is ‘n duidelike bewys van groei in genade. Jou lewe sal hierdeur gekenmerk word, en jyself én andere sal kan sien dat jy toenemende guns by God geniet.
• As jy los van die wêreld is, en jou siel vir wêreldse begeerlikhede gekruisig is, het jy geestelik vooruitgang gemaak op die pad na groter oorwinning.
• Minder gevoelens van weerstand wanneer jy gevra word om jouself te verloën, openbaar ‘n groei in genade. Jou eie gevoelens is minder oorheersend, en die wil verkry die oorhand sodat die siel in harmonie met die wil optree.
• Minder versoekings vir die sonde van versuim, bv. om die kruis te vermy en pligte soos Bybelstudie en stiltetyd na te laat. Soos wat heiligmaking van die gees, siel en liggaam in jou lewe toeneem, verloor hierdie versoekings hulle krag.
• Toenemende ywer vir die saak van die Here. Soms verflou ‘n Christen se ywer vir geestelike werk, maar as dit weer sterk word, dan groei hy in genade.
• Selfbewustheid en hoogmoed is twee vleeslike gesindhede. Wanneer dit kwyn en wegsterf, neem genade toe. Moenie selfbewus wees en jou teen jou eie swakhede blind staar nie, maar moet ook nie in hoogmoed verval en die eer van mense soek nie.
• Die aanvaarding van God se volle geopenbaarde wil is ‘n teken van geestelike groei. Sekere Christene verwerp aspekte van God se wil en bestier van sake.
• Kalmte onder uiters moeilike omstandighede is ‘n bewys dat die siel stewig aan Christus geanker is.
• Lankmoedigheid en verdraagsaamheid onder provokasie, asook blydskap en oorwinning te midde van teleurstellings, dui op ‘n groei in genade. Jy tel jou seëninge in plaas van jou beproewings.
• ‘n Afnemende ingesteldheid op ander mense se foute en tekortkominge. Jy is nie meer so sarkasties en veroordelend nie. ‘n Sagter geaardheid en vergewensgesindheid gaan ook hiermee gepaard.
• ‘n Bereidwilligheid om opofferings te maak om ander te help. As mense se geestelike nood ons aanspreek en die redding van hulle siele ‘n belangrike ideaal vir ons word, het ons grootliks in die guns van die Here toegeneem.
• Wanneer die eer van die Here se Naam vir ons ‘n ernstige oorweging is, het die genade van Christus oorvloedig in ons geword.

16. Geestelike volwassenheid:
Hoe groei ‘n mens in genade? Deur te voldoen aan die voorwaardes vir geestelike groei wat hierbo genoem is.
Ons moet onthou dat elke stap van geestelike vooruitgang in die geloof geneem word, en nie deur werke nie. Baie Christene maak groot foute op hierdie terrein. Sommiges beweer dat heiligheid deur werke en die nakom van uiterlike reëls verkry word. Hulle noem heiligmaking deur die geloof ‘n absurditeit en beskryf die proses van groei in genade as die aanleer van gewoontes van gehoorsaamheid en onderdanigheid aan God.
Dit is verbasend. Die feit is dat elke stap van vooruitgang in die Christen se lewe in die geloof deur ‘n vars en voller toeëiening van Christus, en deur ‘n nuwe vervulling en salwing met die Heilige Gees, verkry word. Wanneer ons swakhede, gebreke en sondes deur omstandighede aan ons geopenbaar word, is die Here Jesus ons enigste hoop. Ons groei slegs op na geestelike volwassenheid namate ons meer met Hom beklee word, van onsself ontledig word, die valse hoop van heilige gewoontes verwerp, en met toewyding na dieper aanrakings deur die Heilige Gees soek.
Ek sê dit met droefheid: die onderrig van baie predikante is ‘n struikelblok vir die kerk. Onder hulle lering word bekeerlinge nooit in die volle genade van die Here bevestig nie, daarom lei hulle nie tot die eer van Christus bruikbare en eerbare lewens nie. Sulke leraars weet nie hoe om self in genade te groei nie, daarom kan hulle nie ander hierin lei nie. Indien die kerk sy bekeerlinge reg wil onderrig om vordering in heiligmaking te maak, moet die predikant eers in sy eie geestelike lewe vordering maak. Hy moet ‘n dinamiese, groeiende Christen wees wat in staat is om ander te lei.
Baie gemeentelede op baie plekke is diep ongelukkig oor die gebrek aan geestelike toewyding en groei by hul predikante. Hulle handhaaf dikwels ‘n hoë intellektuele, literêre, filosofiese en teologiese standaard in hulle prediking, maar die salwing van die Heilige Gees rus nie op hulle boodskap nie. Om hierdie rede is hulle preke kragteloos en het dit geen invloed op lidmate nie. Hulle verkondig ‘n intellektuele eerder as ‘n geestelike boodskap waardeur mense nie geestelik gestig word nie.
Dit is duidelik waarom daar so baie gelowiges is wat terugval – hulle kry nie tydige en behoorlike onderrig oor heiligmaking en dissipelskap nie. Om behoorlik te kan wees, moet sulke onderrig onder die salwing van die Heilige Gees aangebied word, sodat mense met krag uit die hoogte beklee kan word (Luk. 24:49). Dit is die enigste manier om met Christus vervul te word deur sy Gees, en doeltreffende diens in sy koninkryk te verrig. (Einde van aanhalings uit Charles Finney se boeke, Lectures on Revival en Power from on High).
Hierdie situasie plaas ‘n groot verantwoordelikheid op elke persoon om self vas te stel waar hy of sy met die Here staan. Ondersoek jouself of jy werklik in die geloof is, en ook of jy deur ‘n lewe van heiligmaking en geestelike groei ‘n bruikbare getuie vir Jesus Christus is.

17. Die einde van die reis:
Die bestemming van die Christen se pelgrimsreis uit die duisternis tot die lig is sy ewige tuiste in die hemel – in die nuwe Jerusalem waar die Here Jesus vir ons plek gaan berei het (Joh. 14:2-3). In die moeilike dae van ons aardse bestaan, wanneer ons vreemdelinge en bywoners in ‘n bose wêreld is, gee geloof in God en die versekering van ons wonderlike toekoms aan ons die krag om versoekings te weerstaan en tot die einde toe in heiligmaking te volhard.
Die hoop op Christus se koms en ons verheerliking is ‘n anker vir die siel wat veilig en vas is, en ingaan tot by die genadetroon (Heb. 6:19). Die Here Jesus is self ons anker. Ons weet dat ons toekoms veilig in sy hand is en dat Hy ons op hierdie smal en steil pad wat vol aanvegtinge deur die sielevyand is, sal deurdra (Ps. 68:20). “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe” (2 Kor. 4:16).
Daar is ongelukkig diegene wat moedeloos word, verkoel in hulle liefde (Matt. 24:12) en veragter in die genade (Heb. 12:15). Kom kniel by die kruis, bely alles wat skeiding tussen jou en die Here maak, en gee jouself opnuut aan Hom oor.

Die voortgesette reiniging deur die bloed van die Lam en die vernuwende krag van die Heilige Gees, stel ons in staat om van oorwinning tot oorwinning op dié pad te gaan. As ons kragtig word in die Here en in die krag van sy sterkte, sal ons nooit onder die geledere van die vleeslikes, kragteloses of teruggevallenes gereken word nie. Terwyl ons opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus, sal ons geestesvermoëns verkry, deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei (Ef. 4:13; Heb. 5:14). Dan sal ons vinnig op die pad van die Here vorder en tot die eer van sy Naam volhardend en doelgerig werke doen wat ewigheidswaarde het.

God bless.


Offline
 Profile  
 
Display posts from previous:  Sort by  
 Page 1 of 1 [ 1 post ] 

All times are UTC + 2 hours


Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest


You cannot post new topics in this forum
You cannot reply to topics in this forum
You cannot edit your posts in this forum
You cannot delete your posts in this forum

Search for:
Jump to:  

cron