It is currently Tue Jul 25, 2017 8:42 am

All times are UTC + 2 hours




 Page 1 of 1 [ 1 post ] 
Author Message
 Post subject: Die wereld verwerp steeds die Koning van die Jode.
PostPosted: Sun Jul 05, 2015 8:55 am 

Joined: Thu Dec 24, 2009 12:01 pm
Posts: 176
Wêreld Verwerp Steeds die Koning van die Jode
Deur Dave Hunt
Opsomming: Baie mense erken Jesus Christus in verskeie hoedanighede, maar nie almal van hulle is bewus van sy rol as Koning van die Jode nie.
Gedurende Kersfees is daar miljoene mense wat andersins min aan Christus of God dink, wat by dié geleentheid lippediens aan die feit bewys dat Jesus 2000 jaar gelede in Betlehem as Koning van die Jode gebore is: “…[toe] het daar wyse manne uit die Ooste in
Jerusalem aangekom en gesê: Waar is die Koning van die Jode wat gebore is?” (Matt. 2:1-2; kyk ook Luk. 1:31-32).:
Dit is eienaardig dat selfs baie Christene wat glo dat Jesus as die “Koning van die Jode” gebore is, in werklikheid geen waarde aan dié titel heg nie – veral nie omdat dit met die Jode in verband staan nie. Profesieë wat daarop dui dat Christus die wêreld van Dawid se troon af uit Jerusalem sal regeer, word metafories opgeneem en op sy huidige regering uit die hemel toegepas.
Jerusalem is 3000 jaar gelede deur koning Dawid verower en tot Israel se hoofstad verklaar. Veertig keer in die Bybel word Jerusalem “die stad van Dawid” genoem. Daar het die Here Dawid se troon vir ewig gevestig. Op daardie troon moet die Messias, die Koning van die Jode, oor Israel én die wêreld regeer (2 Kron. 6:6, 33: 7; 2 Sam. 7:16; Ps. 89: 3-4, 20-21, 29-36; Hand. 15:16-17). Jerusalem word meer as 800 keer in die Bybel genoem en vervul ‘n sleutelrol in God se raadsplan. Hy het sy Naam vir ewig aan dié stad verbind (2 Kon. 21:4).

Jodehaat en die stryd om Jerusalem:
Omdat Satan weet dat hy slegs oorwin kan word deur die Messias wat uit die geslag van Abraham, Isak en Jakob kom, het hy 3000 jaar van Jodehaat aangeblaas. Indien hy alle Jode sou doodmaak, dan kon die Messias nie gebore word nie. Satan het daardie rondte van die geveg verloor. As hy egter vandag alle Jode doodmaak, dan kan God nie sy beloftes vervul dat Jesus met sy tweede koms as Koning van die Jode op Dawid se troon sal regeer nie. God sal dan ‘n leuenaar wees en Satan die oorwinnaar. Die integriteit van God en sy ewige raadsplan is aan die oorlewing van Israel gekoppel!
Jasser Arafat van die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) maak daarop aanspraak dat Jerusalem nog altyd aan die Palestyne behoort en al vir duisende jare ‘n Arabiese stad is. Dié stad word egter nie eers een keer in die Koran genoem nie.
Op 15 Julie 1889 het die Pittsburgh Dispatch berig dat daar 40 000 inwoners in Jerusalem was, waarvan 30 000 Jode en die meeste ander Christene was. In 1948 toe Israel sy onafhanklikheid verklaar het, het slegs 3% van die grondgebied aan Arabiere behoort.
Israel se Knesset is in Jerusalem. Die wêreld aanvaar dit nie, daarom is die meeste buitelandse ambassades op ander plekke – die meeste van hulle in Tel Aviv. Die wêreld verwerp God en sy Koning (Ps. 2) en het hulle eie planne vir Jerusalem.

n Wêreldwye veldtog:
Ons kom nou by die breër aspekte van die anti-Joodse oorlog teen God en die Koning van die Jode, en dit is die pogings om Jerusalem en God se land (Lev. 25:23) te beheer. Dit is verbasend dat die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad byna ‘n derde van sy besprekings en besluite aan Israel gewy het – ‘n klein landjie met minder as ‘n duisendste van die wêreldbevolking! Die VN het nog nooit die Arabiere oor hulle terrorisme veroordeel nie, maar het Israel meer as 370 keer veroordeel omdat hy homself verdedig.
In Maart 1999 het die Europese Gemeenskap die Joodse regering in kennis gestel dat hulle nie Israel se soewereiniteit oor Jerusalem erken nie. Pous Johannes Paulus II het ook opnuut die Israeli soewereiniteit oor Jerusalem verwerp.
In hierdie gebeure sien ons die voortgesette vervulling van Christus se merkwaardige profesie dat “Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24).
Die herowering deur Israel van Oos-Jerusalem in 1967 dui klaarblyklik op die einde van die tye van die nasies. Deur ‘n baie onverwagte besluit het Israel egter die beheer oor die Tempelberg aan ‘n Moslemkomitee (die Wakf) onder toesig van Jordanië oorgedra, en daardeur die hart van Jerusalem in heidense beheer gelaat. In 1994 het Jasser Arafat en sy PBO beheer oor die
Tempelberg oorgeneem.:
Die Rooms-Katolieke leerstelling dat Israel deur die kerk vervang is (die vervangingsteologie), is besig om ook vinnig in Protestantse kerke te versprei. Dit is ‘n subtiele vorm van Jodehaat. In plaas daarvan om die Jode na die oonde te stuur, word hulle betekenis en selfs hulle bestaan ontken. Deur die verdraaiing van historiese feite word die Jode nie as ware Israeliete beskou nie; die ware Israeliete is glo die Mormone, die Brits-Israelse Beweging (Israelvisie), die Katolieke of die Christene.
Die skandelike wreedheid van Jodehaat deur die eeue is ‘n skokkende openbaring van die menslike hart. Satan het miljoene bondgenote gekry (baie van hulle noem hulleself Christene) wat maar té ywerig is om God se uiverkore volk te vervolg en selfs dood te maak. Hitler se “finale oplossing vir die Joodse probleem” was aan Roosevelt, Churchill en ander geallieerde leiers bekend, maar hulle het niks daaraan gedoen nie. Selfs die neutrale Switserland en Swede het voortvlugtende Jode na Hitler se oonde teruggestuur.

Islam se ‘heilige oorlog’:
Dit is verbysterend dat Sionisme en Nazisme in ‘n Jordaniese handboek aan mekaar gelyk gestel word. Nogtans het die Arabiere Hitler toegejuig en gehelp, terwyl Islam vandag nog Hitler se “finale oplossing” nastreef. Dreigemente soos dié van Hitler kom onafgebroke van Islam se godsdienstige en politieke leiers oor die TV, radio’s, luidsprekers, uit moskees en in die strate. Die stryd tussen Jahweh, die God van Israel wat die Jode as sy uitverkore volk liefhet, en Allah, die god van Islam wat die Jode vuriglik haat, is besig om na ‘n skrikwekkende hoogtepunt op te bou.
Dit is elke Moslem se godsdienstige plig om die Jode uit te wis. Moslems droom oor die vernietiging van Israel. Hulle vernoem vakansiedae en strate na die moordenaars van onskuldige Israeli’s en vier feeste ter ere van terroriste. Islamitiese leiers doen ‘n oproep vir ‘n geestelike herlewing as die sleutel tot die vernietiging van Israel. Islamitiese fundamentaliste gebruik oral in die wêreld terreurgroepe om hulle doel te bereik.
Moslem geleerdes stem saam dat dit die heilige plig van elke Moslem van alle tye is om ‘n jihad (‘n heilige oorlog) te voer om die hele wêreld aan die gesag van Allah te onderwerp. Daar is meer as 100 verse in die Koran waarin oorlog en moord vir die bereiking van hierdie doel aangemoedig word. ‘n Libiese kabinetsminister het verduidelik: “Geweld is die Moslem se mees verhewe vorm van gebed.”

Ten spyte van sy inname en grootskaalse verwoesting van Koeweit, is Saddam Hoesein geliefd onder miljoene Arabiere omdat sy scud-misiele groot skade in Israel aangerig het, en hy nog steeds oproepe vir die vernietiging van Israel doen. Wanneer Kaddafi histeries uitroep: “Die stryd teen Israel sal só intens wees dat Israel ophou om te bestaan!” praat hy namens elke Moslem. Islam se stigtersprofeet, Mohammed, het verklaar: “Die laaste uur sal nie aanbreek voordat die Moslems teen die Jode geveg en hulle doodgemaak het nie.”
Die Moslems se begeerte om Israel uit te wis, word reeds van hulle kinderjare af aangeleer. Die Siriese minister van onderwys het geskryf: “Die haat wat ons van kleins af in die gemoedere van kinders vestig, is heilig.” ‘n Negende graadse Egiptiese handboek verklaar die volgende: “Israel sal nie oorleef as die Arabiere standvastig in hulle haat is nie.” ‘n Vyfde graadse handboek sê: “Die Arabiere moet nie ophou om hulle vir die vernietiging van Israel te beywer nie.”
Dit is selfmoord vir Israel om strategiese grondgebiede vir ‘vrede’ met sulke vyande af te staan. Die wêreld dwing hulle egter om dit te doen.
Mohammed het aan die Moslems gedemonstreer hoe om “vrede” te maak. In 628 n.C. het hy ‘n vredesooreenkoms met sy eie Kuraish-stam gesluit om vir sy volgelinge vrye toegang vir aanbidding tot Mekka te verkry. Twee jaar later, toe hy militêr baie sterker was, het hy Mekka onverwags aangeval en elke manlike lid van die Kuraish-stam om die lewe gebring.
Arafat het in die openbaar gesê: “In die naam van Allah… ek beskou nie die Israeli-PBO-ooreenkoms belangriker as die ooreenkoms wat ons profeet Mohammed met die Kuraish-stam gesluit het nie… Vrede vir ons beteken die vernietiging van Israel.”
Daar is dus geen plek vir die Koning van die Jode nie! Dit is die ware aard van Islam – hou hulle fyn dop!

Wie gaan vrede bring?
Die Moslem-nasies bewapen hulleself met misiele wat in staat is om chemiese, biologiese en kernplofkoppe af te vuur. Sirië het duisende chemiese en biologiese plofkoppe vervaardig. Sedert die 1973 Jom Kippoer oorlog het hulle hul militêre slaankrag en lugvuis verdriedubbel. Die hele wêreld weet dat hulle met dié wapens net een doel het: om Israel te vernietig.
Israel het ook kernwapens, en dit sal binnekort in moderne duikbote ontplooi wees. Hulle sal dit gebruik as dit nodig is. Wie gaan vrede bring? Die Here Jesus het gewaarsku teen ‘n vernietiging wat só groot sal wees dat as Hy nie self tussenbeide tree om dit te beëindig nie, geen mense op aarde gered sal word nie (Matt. 24:21-22). Deur dié merkwaardige profesie word moderne wapens van massavernietiging geïmpliseer.
Geen wonder nie dat die God van die Bybel, wat Homself twaalf keer “die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob” noem, herhaaldelik belowe om Israel en Jerusalem in die laaste dae te beskerm en te verdedig! Hy het die moderne Israel in 1948 tot geboorte gebring en sal sy doel met hulle bereik (Jes. 66:8-9).

Die wêreld soek na sy eie vrede:
In sy waansinnige rebellie teen God verwerp die wêreld steeds die “Koning van die Jode” en sy beloofde internasionale vredesbewind vanaf Dawid se troon uit Jerusalem. In die plek hiervan maak hulle hul eie planne.
Die ideaal van ‘n humanistiese wêreldregering word al sedert die tyd van Nimrod se Babiloniese ryk nagestreef. In die moderne tyd het hierdie ideaal nuwe stukrag gekry. In 1921 is die Council on Foreign Relations (CFR) gestig. In hulle tydskrif, Foreign Affairs, sê hulle: “Daar sal geen vrede en voorspoed vir die mensdom wees voordat daar ‘n internasionale orde tot stand gekom het nie.” Mense se geloof in God moet met geloof in hulleself en hulle innerlike vermoë vervang word.
In Mei 1947 het Winston Churchill gesê: “Tensy ‘n doeltreffende wêreldregering gevestig kan word en begin funksioneer, is die vooruitsig op vrede en menslike vooruitgang twyfelagtig.”
Die VN se sekretaris-generaal, Kofi Annan, het onlangs gesê dat die begrip van nasionale soewereiniteit hergedefinieer en ter syde geskuif sal moet word. Dit staan in die pad van groter eenheid in die wêreld. Hy het ook gesê dat stappe in 2000 geneem sal word ter bevordering van ‘n wêreldgodsdiens: “Die VN sal sy rol as vredemaker na die geestelike terrein uitbrei en sy eerste byeenkoms vir die wêreld se godsdiensleiers reël.”

Mislukte pogings vir ‘n beter lewe:
Dit maak nie saak watter regeringsvorm ingestel word nie, die leiers daarvan is selfsugtig en onderdrukkend. Hierdie feit is herhaaldelik al in die wêreldgeskiedenis bewys. In Afrika is blanke koloniale beheer verwerp. In die plek van die beloofde vryheid het daar egter ‘n nuwe vorm van onderdrukking en uitbuiting onder die bewind van swart despote gekom. In plaas van vrede en voorspoed vir almal is daar nou toenemende chaos, armoede, opstande, etniese- en stamoorloë waarin die swartes mekaar doodmaak. Revolusies en staatsgrepe vind plaas waarmee niks bereik word nie.
Kommunisme was in ‘n stadium vir baie mense die groot hoop vir die skepping van ‘n gelykberegtigde, humanistiese samelewing. Dit het só goed geklink: gelykheid vir almal. Die mense wat hierdie “gelykheid” afgedwing het, was egter tiranne wat net na hulle eie, selfsugtige behoeftes omgesien het. In die proses het hulle die burgers van die land onderdruk en besteel. Korrupsie het in die Sowjet-Unie en Sjina gefloreer, soos ook in alle ander kommunistiese lande.
Dieselfde is waar van Islam. Mohammed het hulle van ‘n swaard voorsien. Ná sy dood het groot dele van Arabië probeer om die juk van Islam af te werp. Hulle is egter tot onderdanigheid teruggedwing in die Oorloë teen Afvalliges waarin duisende mense dood is. Dit het ook nie vrede gebring nie. Mohammed se intiemste metgeselle en familielede was in ‘n bloedige stryd om leierskap betrokke en het mekaar in die naam van Allah en hulle profeet vermoor. Kompeterende faksies het ook duisende van mekaar se ondersteuners doodgemaak.

Islam het nie verander nie. Tussen 1948 en 1973 was daar 80 revolusies in die Arabiese wêreld, waarvan 30 suksesvol was. Hierin is daar 22 staatshoofde vermoor. Verskillende faksies veg nog steeds teen mekaar. In die agt jaar lange oorlog tussen Iran en Irak is ‘n duisend ton gifgas gebruik, en daar is meer mense dood as in die Eerste Wêreldoorlog.
Die Moslems kan nie eers onder mekaar vrede bring nie. Nogtans sê die Britse eerste minister, Tony Blair, dat Islam vir hom sinoniem met vrede, verdraagsaamheid, en ‘n mag ten goede is. Die Christal Cathedral Houses is ‘n gesamentlike “Christen en Moslem Instituut vir Vrede.” Watse vrede?
Islamitiese lande is diktatorskappe wat deur genadelose moordenaars en internasionale terroriste soos Irak se Saddam Hoesein, Libië se Kaddafi en Sirië se Hafez Assad gelei word. In die naam van Allah word tienduisende van hulle eie mense in die tronk gegooi, gemartel en doodgemaak. Hulle lei ook internasionale terroriste op en finansier hulle sabotasie- en moordplanne.
In die PBO gebiede wat van Israel oorgeneem is, soos in elke ander Moslemland, is daar geen vryheid van gewete, spraak, godsdiens, politiek of in die media nie.

Groot probleme ook in Israel:
Israel is die enigste demokrasie in die Midde-Ooste, en hulle ervaar die probleme wat eie aan ‘n demokrasie is. In die Heilige Land is daar baie groot probleme met dwelms, pornografie, prostitusie, rebelse jeug, verkragting, roof en moord. Israeli’s is in konflik met mekaar weens hulle selfsugtigheid. Meer as 200 000 Israeliese vroue is jaarliks die slagoffers van binnelandse geweld. Die barbaarse dade in Israeli skole is vergelykbaar met dié in Amerika waar dit baie woes gaan. Geweldsmisdade onder Israeli jeug het tussen 1993 en 1998 meer as verdubbel. Daar is ook vyandigheid tussen godsdienstige en sekulêre Israeli’s, en toenemende ontnugtering met Judaïsme – veral onder die jeug.
As Jeremia vandag geleef het, sou hy Israel teen die oordele van God oor hulle sonde gewaarsku het. Die Israeli’s het nodig om hulleself tot die God van Abraham, Isak en Jakob te bekeer; maar wat gebeur as hulle dit wél sou doen? Die rabbi’s het geen vergifnis wat hulle aan berouvolle sondaars kan bied nie. Vir meer as 1900 jaar reeds het hulle geen tempeldiens en offers vir die sonde van die volk nie – net soos die Bybel dit geprofeteer het (Hos. 3:4; Luk. 21:20-24).
Waarom sou God hierdie dinge profeteer en toelaat? Slegs omdat Jesus, die Messias en Lam van God, vir die sondes van die Jode én die heidene gesterf het. Omdat sy offer aan die kruis die vervulling van die Ou Testamentiese offers is, is hulle nie meer nodig nie. Dit is die enigste rede waarom die Here vir Israel al hierdie jare sonder ‘n tempel en offers gelaat het.
In die Ou Testament is daar meer as 300 profesieë wat aandui waar en wanneer die Koning van die Jode gebore sou word – alles oor Hom, insluitende sy verwerping, kruisiging en opstanding. Al hierdie profesieë is tot in die fynste besonderhede in die lewe van Jesus Christus vervul. As Hy nie die Messias is nie, dan is daar nie ‘n Messias nie.
Op die presiese dag wat die engel Gabriël aan Daniël vertel het (Dan. 9:25), het Jesus in Jerusalem ingery, is Hy as die Messias begroet soos wat Sagaria (9:9) geprofeteer het, is Hy gekruisig vir ons sonde en het uit die dood opgestaan soos wat Israel se profete voorspel het. Op die kruis bokant sy kop het Pilatus die volgende aanklag laat plaas: DIT IS JESUS, DIE KONING VAN DIE JODE (Matt. 27:37).

Volgens onweerlegbare historiese getuienis én Israel se eie profete, is dit 2000 jaar té laat om die eerste koms van die Messias te verwag. Israel se enigste hoop is nou sy tweede koms. Dit is tragies dat dit vir Israel die oorlog van Armagéddon sal verg om hulle Messias te erken. Wanneer Hy op die Olyfberg verskyn om Israel van uitwissing te red, sal elke Jood sien dat Hy die Man is wat vir hulle sondes deurboor is en weer opgestaan het; dieselfde Messias as wat hulle profete beskryf en wat deur hulle verwerp is. Dan sal die hele oorblyfsel van Israel glo (Sag. 12:10; 13:9). Dan sal die “Koning van die Jode” uiteindelik vir altyd regeer. Op hierdie oomblik bied Hy vergifnis, vrede, die ewige lewe en sy heerskappy op die troon van elkeen se hart wat vir Hom oop is.

God bless.


Offline
 Profile  
 
Display posts from previous:  Sort by  
 Page 1 of 1 [ 1 post ] 

All times are UTC + 2 hours


Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest


You cannot post new topics in this forum
You cannot reply to topics in this forum
You cannot edit your posts in this forum
You cannot delete your posts in this forum

Search for:
Jump to:  

cron